ʼn Man is Woensdag in die vroeë oggendure dood toe sy motor ʼn lamppaal in Turffontein in Johannesburg getref het.
Volgens Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, het die botsing in Rochelleweg plaasgevind.
“Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie en word ondersoek. Met paramedici se aankoms op die toneel is die man se liggaam in die motor se wrak aangetref. Sy liggaam was in die wrak vasgepen en moes deur die brandweer uitgesny word,” het Bodasing gesê.
Die man is op die toneel dood verklaar.