TV-lisensies: Jan Taks dalk gou voor jou deur  

(Argieffoto)

Stromingsdienste soos Netflix sal moontlik binnekort ʼn uitsaailisensie van die regering moet bekom om in Suid-Afrika uit te saai, terwyl die Inkomstediens dalk ingespan gaan word om TV-lisensiegeld in te samel.

Die departement van kommunikasie en digitale tegnologieë het op 31 Julie ʼn konsep-witskrif oor die raamwerk vir klank- en oudiovisuele inhoudsdienste en aanlyn inhoud- veiligheid gepubliseer. In die witskrif word onder meer voorgestel dat ʼn omvattende hersiening van die SAUK se finansieringsmodel gedoen word om te verseker dat die openbare uitsaaier voldoende geld het om sy openbare mandaat na te kom.

Voorstelle in dié verband sluit in ʼn openbare uitsaaidiens (PBS)-heffing wat deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ingevorder word, aangesien minder as ʼn vyfde van kykers betaal. Dié voorstel kom van die satelliettelevisieverskaffer MultiChoice. Dit en die voorstel van ʼn huishoudelike heffing word tans in die SAUK-wysigingswetsontwerp oorweeg. Die departement glo dat die voorgestelde wysigings die invorderingstelsel vir TV-lisensies sal verbeter en afdwingingsmeganismes en strawwe vir nie-betaling sal versterk.

 SA’ners reeds swaar belas

“Die SAUK kan nie TV-lisensiegeld insamel nie en soek nou bystand van die SAID,” sê Chloe Castle, hoof van die drukgroep DearSA.

“Suid-Afrikaners dra reeds ʼn baie swaar belastinglas – van inkomstebelasting, BTW en brandstofheffings tot lopende belasting (PAYE) en doeaneregte.”

DearSA het die publiek genooi om op die konsep-witskrif kommentaar te lewer. Dit kan tot 8 September 2023 gedoen word.

Uitsaailisensies vir Netflix en kie

(Foto: Andrés Rodríguez/Pixabay

Stromingsdienste soos Netflix en Disney+ sal dalk binnekort gelisensieer moet word om voort te gaan om dienste in Suid-Afrika te verskaf. Dié dienste kan ook aan strenger plaaslike inhoudregulasies onderwerp word. Stromingsdienste word tans nie verplig om enige tipe inhoudslisensie in Suid-Afrika te hê nie.

“Ons betaal reeds vir subskripsiedienste (plus BTW) en data- of internetdienste (plus BTW), en dan moet ons ook die toestelle koop waarop ons die inhoud kan sien (koopprys plus BTW). Daarbenewens word private inhoudverskaffers ook belas op inkomste wat ontvang word,” wys Castle daarop.

“Die vraag is, wat dra die SAUK tot die mediaverskaffingsketting by en hoe sal hulle dit verbeter deur bykomende finansiering? As die waardetoevoeging reeds teenwoordig was, hoekom ontgroei private inhoudstromers die plaaslike uitsaaidienste?”

SAUK ly groot verlies

Mondli Gungubele (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die SAUK het ʼn verlies van R201 miljoen in die 2021/’22-boekjaar gely, in vergelyking met die R530 miljoen verlies wat in die 2020/’21-boekjaar aangeteken is.

Agterstallige skuld aan die SAUK vir uitstaande TV-lisensiegeld beloop intussen ʼn allemintige R44,2 miljard.

Mondli Gungubele, minister van kommunikasie en digitale tegnologie, het onlangs in antwoord op ʼn parlementêre vraag bekend gemaak dié bedrag word deur 9,6 miljoen individuele wanbetalers aan die SAUK geskuld. Hy het verder bevestig dat die besonderhede van 5,6 miljoen wanbetalers aan skuldeisers oorhandig is.

Hersiening van lisensiebedeling

Die konsepdokument vervat die regering se planne vir ʼn volledige hersiening van die lisensiebedeling vir klank- en oudiovisuele inhouddienste in Suid-Afrika.

Daar word aangevoer dat Suid-Afrika se wetlike raamwerk vir uitsaairegulering in die afgelope 25 jaar uit pas geraak het met die vinnige tegnologiese ontwikkelings en die onvermydelike kragte van die Vierde Industriële Revolusie (4IR).

“Hierdie konsepwitskrif stel voor om op ʼn geleidelike wyse te onderskei tussen tradisionele uitsaaidienste, video-op-aanvraag-verskaffers en video-deelplatforms, en ʼn gelyke speelveld tussen mededingende dienste te skep deur regulasies en openbare belang- verpligtinge vir lisensiehouers op te lê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elize ·

Nou wil ek weet – by al die minderbevoorregtes se huise is daar tot 3 skottels opgerig. Hulle skreeu elke dag dat dit so swaar gaan maar kan bekostig om die beste TV stelle aan te koop. Gaan hulle ook nou gedwing word om lisensies te kry of word dit verwag dat ons die arme wesens moet help want hulle is dan so arm.

Republikein in die Wes Kaap ·

Multichoice swaai nie meer die septer nie. Kan ook nie meeding nie.

TRP ·

As daar meer programme is wat die betalende Suid Afrikaner in sy eie taal vermaak en minder vermaak vir die niebetalende Suid Afrikaner, sal die bedrag moontlik aansienlik verbeter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.