Twee bely glo moorde aan medegevangene

Sithembiso Hlongwane (regs) en Stanley Lingena (links) (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

“Ons het hulle doodgemaak, want ons het geld gesoek.”

Só het Sithembiso Hlongwane (28) en Stanley Lingena (38) glo destyds aan ’n medegevangene bely net nadat hulle in hegtenis geneem is vir die moord op Annie Liebenberg (62) en haar lewensmaat Michael Zantow (64) in Sasolburg in die Vrystaat.

In ’n beëdigde verklaring van die medegevangene, Koletso Nkhethoa, wat Maandag in die rondgaande hof in Parys voorgelees is, het Hlongwane en Lingena alles oor die moorde aan hom verklap. Hy het die verklaring verlede jaar by die polisie afgelê.

Nkhethoa is in Julie vanjaar oorlede en sy verklaring is deur sers. Chrissie van der Linde, die ondersoekbeampte, in die hof voorgelees. Sy het Maandag haar plek in die getuiebank ingeneem.

Ten tyde van die voorlees van die verklaring, het Hlongwane aanhoudend sy kop geskud en verontwaardig voorgekom.

“Nie een van die mans het enigsins berou oor die moorde getoon nie. Dit was vir my duidelik die moorde was vooraf beplan,” lui die verklaring.

Annie en Michael was smoorverlief. (Foto: Verskaf)

Volgens die verklaring was Nkhethoa op 23 Augustus verlede jaar in aanhouding by die polisiestasie in Zamdela, Sasolburg, toe Hlongwane saam met hom in die sel geplaas is. Nkhethoa is vir koperkabeldiefstal aangehou.

“Ek het die man [Hlongwane] gevra waarom is hy in hegtenis geneem. Hy het erken dat hy en sy vriend moord gepleeg het. Ek het hom gevra hoe is die moord gepleeg en die man het geantwoord dat hulle ’n man en vrou by twee verskillende huise vermoor het.”

Zantow is by Liebenberg se oorlede ma se huis in Lateganstraat vermoor en Liebenberg by die paar se huis in Watersonstraat. Die huise is net 230 m van mekaar.

Volgens Nkhethoa het Hlongwane aan hom erken dat Lingena sleutels van die huis in Lateganstraat gehad het en só toegang tot die huis verkry het.

Dit het vroeër in die hof uitgekom dat Lingena tuinwerk vir die paartjie gedoen het, maar ’n groot kopseer vir hulle was omdat hy glo gereeld geld wou leen en ook vermoedelik alkohol uit die huis gesteel het. Luidens die klagstaat is Lingena menigmaal deur die paartjie afgedank.

Hlongwane het in die tuin gewag terwyl Lingena vir Zantow na die huis gelok het. Hlongwane het volgens die verklaring vir Zantow oorrompel en Lingena het hom toe vier keer met ’n byl oor die kop gekap. Hulle het Zantow se liggaam daarna op ’n ander plek in die tuin weggesteek.

Van der Linde het getuig sy het Zantow se liggaam – met oop kopwonde – in ’n tipe van Wendyhuis op die erf aangetref.

Hlongwane het aan Nkhethoa erken hy en Lingena het daarna al hul vingerafdrukke en die bloed skoongemaak.

“Ons is daarna na die ander huis [Watersonstraat] waar ons toe ’n vrou [Liebenberg] gekry het. Ons het haar oorrompel en haar voete en hande vasgebind. Ons het gevra vir haar bankkaarte se wagwoorde. Ons het haar daarna doodgesteek.”

Volgens die verklaring het die twee daarna items, waaronder vuurwapens, kontant, bankkaarte, alkohol, skootrekenaars en selfone, gebuit. Hulle het die gesteelde goedere in Liebenberg se wit Volkswagen Jetta gesit en gevlug.

“Ons het toe ons eie klere gebrand om die bewyse te vernietig.”

Nkhethoa is op dieselfde dag na ’n ander sel oorgeplaas waar hy toe vir Lingena ontmoet het. Hy het dieselfde storie as Hlongwane aan hom vertel.

“Volgens Stanley het hulle suur gebruik om van die bewyse ontslae te raak.”

Lingena het bely dat hy en Hlongwane die Sondagaand teruggegaan het na die huise om Zantow en Liebenberg se liggame te kry en te brand.

Die polisie het egter hul planne in die wiele gery.

Die polisie is van die gesteelde Jetta in kennis gestel en het dié motor op die pad gewaar en probeer aftrek.

“Ons het van die polisie probeer wegkom, maar die polisie het ons omring, waarna ’n skietery uitgebreek het. Ons het uit die motor gespring, weggehardloop en gaan skuil. Ons is ná ’n ruk na ons huise toe.”

Van der Linde het getuig sy het Hlongwane en Lingena op 23 Augustus by hul onderskeie huise in hegtenis geneem.

By die verdagtes se huise het sy toestemming gekry om hul huise te deursoek, waar sy toe op van die paar se gesteelde goedere afgekom en op beslag gelê het.

Volgens Van der Linde was gesteelde items in ʼn plastieksak in Lingena se toilet gekry, waaronder Liebenberg se identiteitsdokument en ook identiteitsfoto’s van Zantow.

Ná die inhegtenisnemings het Lingena vir Van der Linde gesê waar Zantow se liggaam is.

Die saak gaan Dinsdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Piet ·

Gooi hulle net by ‘n baie diep ou mynskaf af sodat ons belasting betalers nie vir hulle kos en verblyf hoef te betaal nie.

Veritas ·

Dis ‘n redelike ernstige klag. Ek twyfel of hulle borgtog sal kry maar miskien is u reg.

Swerwer ·

Natuurlik word ‘n moord vooruit beplan. ‘n Moord word nie op die ingewing van die oomblik gepleeg nie. Ongelukkig is dit die wesens wat dink dat alles aan hul behoort. Pleks hul moor hul eie mense uit wat die armoede in ons land veroorsaak en dryf.

Veritas ·

Nie alle moorde word vooruit beplan nie. Sekere moorde word wel op die ingewing van die oomblik gepleeg ( Dink Oscar ) ens. Wat wel opvallend vir my is die beperkte brein kapasiteit en die begrip van die gevolge van ‘n mens se dade. Baie tuiniers en huis werkers is berokke by die tipe insidente en dan is hulle baie verbaas as die polisie by hulle huise opdaag. Dit gaan my verstand te bowe dat al het die werkgewer en die se familie kopies van hul ids / passpoorte, en fotos, dink hierdie kriminele dat hulle gaan wegkom daarmee. Hierdie ding dat tuinere hulle base doodmaak het eers kop uitgesteek in die laaste 20-25 jaar en dit lyk of dit gou gaan ophou nie.

Marelize ·

En ons sal ook geen berou betoon wanneer ons julle begrawe nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.