Twee gevonnis oor moord op munisipale beampte

Argieffoto (Foto: Tracey Adams/African News Agency/ANA)

Twee mans is gevonnis in verband met die moord op ʼn gemeenskapsprojekbestuurder van ʼn munisipaliteit in Standerton, Mpumalanga.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê die bestuur van die polisie in Mpumalanga verwelkom die vonnisse in die hooggeregshofsitting in Breyten op Themba Solomon Mhlongo (27) en Fanyana June Mthembu (33). Hulle is Donderdag gevonnis ná hulle skuldig bevind is op die moord van die 37-jarige Sithelwesihle Mathenjwa in Standerton op 17 November 2017.

“Besonderhede van Mathenjwa se moord is in die hof gehoor waar dit onhul is dat hy deur sy aanvallers ontvoer is. Hulle het hom van sy persoonlike besittings, insluitend sy skootrekenaar en ʼn blou Nissan Tiida, beroof. Hy is vermoor en sy liggaam is in ʼn vlak graf op ʼn plaas in Standerton begrawe.”

Mathenjwa se familie was bekommerd toe hulle hom ʼn ruk lank nie in die hande kon kry nie. “Op 20 November 2017 het hulle die polisie in kennis gestel dat hy verdwyn het. Die polisie het dadelik ʼn soektog van stapel gestuur, sonder enige sukses.”

Die polisie het op 25 November 2017 ʼn deurbraak gemaak toe hulle Mathenjwa se motor in Standerton opgemerk het. Twee mans het met die motor rondgery. “Hulle is in hegtenis geneem toe hulle nie kon verduidelik hoe hulle aan dié motor kom nie.”

Die beamptes het verder ondersoek ingestel en die twee verdagtes het uiteindelik bely wat gebeur het. “Hulle het beken dat hulle Mathenjwa vermoor het en sy liggaam begrawe het. Hulle het aan beamptes gewys waar hulle sy liggaam begrawe het.”

ʼn Saak van moord is aanhangig gemaak met bykomende aanklagte waaronder ontvoering, roof met verswarende omstandighede en die besit van gesteelde eiendom.

“Beamptes kon ook beslag lê op Mathenjwa se skootrekenaar, omdat dit in die verdagtes se besit was.”

Die mans is gevolglik aangekla en hulle het aangedui daar was nog twee mans wat hulle gehelp het om Mathenjwa te ontvoer. Die hof het egter die saak teen dié twee teruggetrek weens ʼn gebrek aan getuienis om hulle te vervolg.

Mthembu is vyf jaar tronkstraf opgelê vir die besit van gesteelde eiendom.

Mhlongo is lewenslange tronkstraf opgelê op aanklag van moord. Hy is tot ʼn verdere 15 jaar tronkstraf gevonnis vir roof met verswarende omstandighede en drie jaar vir ontvoering. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word. Mhlongo is ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

“Die polisiebestuur in die provinsie loof die uitstekende werk deur die ondersoekspan, die staatsaanklaer en die regstelsel om seker te maak die oortreders boet vir hul oortredings,” het Hlathi bygevoeg. “Die vonnisse moet ʼn afskrikmiddel wees vir ander wat oorweeg om ook sulke gruwelike misdade te pleeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nie Verbaas ·

Hlati, tronkstraf is geen afskrikmiddel nie. Hoeveel suksesvolle vervolgings is daar nou weer in Suid Afrika? Geen oorwinning teenoor misdaad nie.

Casper ·

Die vonisse wat hierdie twee opgelê is , skokkend.Vir die ernstige aard van die misdrywe sal hierdie vonisse nooit dien as afskrikmiddel nie

Persheks Adri ·

Is dit nou regtig ‘n straf vir ‘n lewe? Ek dink nie so nie en boonop gaan die misdadigers nie skrik vir die vonnisse nie. Hulle sal inteendeel net meer moord pleeg soos ons elke dag lees…

Pappa Beer ·

Afskrikmiddel? Nee goeie een hoor. Al afskrikmiddel wat gaan werk is as die doodstraf weer terug gebring word…..maar moordenaars , verkragters en kindermollesteerders in hierdie land het mos “mense regte” .

daniel ·

Die doodstraf moet eenvoudig weer ingestel
word , Die moordenaars en kriminele kom in elkgeval Los..

Nico ·

Die sogenaamde straf kan nie ‘n lewe terug bring nie, doodstraf is die mees gepaste vonnis wat daar is.

Sambok ·

Lewenslange tronkstraf en word onbevoeg verklaar vir n vuurwapen-wa gaan hy hom gebruik…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.