Twee jaar na skokvideo en vonnis: ‘Luister altyd na jou kind’

Klein Laila Theron word aanstaande maand drie. (Foto: Theron-gesin)

Net meer as twee jaar gelede was daar groot opslae toe ʼn video aan die lig gekom het van klein Laila Theron, toe 10 maande oud, wat hardhandig deur haar oppasser in haar bababed gegooi en weer aan haar enkel uit die bedjie opgetel word.

Laila se ouers, Johan en Annemarie, van Outjo in Namibië, het destyds opgemerk dat Laila vreemde beserings het. Sy het ook bang vir haar oppasser, Nicolene Hoëses, voorgekom. Hulle het ʼn program op hul skootrekenaars afgelaai waarmee ʼn video gemaak kan word deur die skootrekenaar se kamera en het só beeldmateriaal vasgevang van hoe hul baba mishandel word.

Hoëses het onder meer Laila se mond toegedruk wanneer sy gehuil het en die dogtertjie is rondgeruk wanneer haar doek geruil moes word.

Hoëses, self ʼn ma, is van poging tot moord aangekla. Sy het in Januarie vanjaar skuldig gepleit op die aanklag teen haar en is in die Outjo-landdroshof tot vier en ʼn half jaar tronkstraf gevonnis.

“Ek dink nie ʼn vonnis van ʼn honderd jaar sou lank genoeg vir my gewees het nie, maar ek is dankbaar dat iets wél gedoen is. Wie is ek om te besluit hoe lank is genoeg vir iemand om ʼn les te leer?” het Annemarie Donderdag aan Maroela Media gesê. “Solank sy net nooit weer toegang tot klein mensies het nie …”

Dit is nou net meer as twee jaar na dié voorval wat die gesin tot in hul diepste wese geruk het. Dit was nie ʼn maklike pad tot hier nie en Annemarie sê hoewel sy glo daar is ʼn doel met alles, verstaan sy steeds nie waarom dit moes gebeur nie.

“Ek is so jammer dat dit met Laila gebeur het, maar hopelik gebruik sy die ervaring eendag ten goede.” Laila – wat aanstaande maand drie word – floreer. En dís wat saak maak.

“Dit gaan goed met Laila. Sy is ʼn doodnormale, gelukkige kind wat nog probeer uitwerk hoe die lewe werk. Sy toets maar die grense soos enige kind van daardie ouderdom,” het Annemarie gesê.

Sy geniet haar gate uit by die kleuterskool waar sy bedags speel en kom baie goed met ander mense en maats oor die weg. Dit lyk nie of sy enige letsels van die ervaring oorgehou het nie, maar die moontlikheid dat dit wél ʼn letsel gelaat het, is nooit te ver uit Annemarie se gedagtes nie.

‘n Skermskoot uit die video.

Die voorval het háár egter verander, sê Annemarie oor haarself. As mens en as ma. “Ons is versigtig. Gedaan versigtig.

“Hierdie het my verander, nie dat ek wou gehad het dit moet nie, maar ek was iemand wat maklik vertrou het. Daar is soveel goeie mense daar buite, maar daar is ook slegtes,” het sy gesê.

Annemarie sê nie elke dag was maklik nie en sommige dae is steeds báie moeilik. “Ons het net daardie een dag se video en ons weet nie wat in die ander vertrekke op die ander dae gebeur het nie.

“Dit het verander hoe ek na mense kyk. Ek is effens meer terughoudend,” sê sy.

Die gesin het sedertdien nog ʼn toevoeging ryker geword: Juan Daniel is nou ses en ʼn half maande oud en Laila probeer nog uitwerk hoe kleinboet in haar wêreld inpas. Wanneer sy bedags by die kleuterskool is, gaan Juan Daniel saam met Annemarie werk toe. “Hy is ʼn gesonde klein seuntjie, maar ek wou hom nie by iemand los nie.”

Klein Laila, saam met haar ma Annemarie, pa Johan en boetie, Juan Daniel. (Foto: Theron-gesin)

Juan Daniel sal na verwagting aanstaande jaar ook na ʼn speelskool gaan.

Annemarie sê hulle het ná die voorval oorweldigende steun gekry. Van vriende en familie, van wildvreemdelinge en vanuit talle wêrelddele. Daar was wél enkelinge wat haar keuse van oppasser bevraagteken het. “In die begin het ek dit [die mishandeling] nie raakgesien nie. Ek sou nie dit aan iemand se kind kon doen en hulle in die oë kyk nie, maar sy het my elke dag in die oë gekyk.”

As daar een ding is wat die gesin geleer het, is dit dat belangrik is om na jou kind te luister. Dit is ook Annemarie se raad aan ander ouers wat ongemaklik voel oor ʼn situasie. En selfs al verstaan jyself nie dadelik jou kind se ongemak of voorgevoel nie, moet jy steeds daarop ag slaan.

“Luister altyd na jou kind. Hulle is baie slim klein wesentjies wat met ons probeer kommunikeer. Of dit nou oor iets soos dié was, omdat hulle siek voel, of omdat hulle net naby jou wil wees: luister na jou kind. Wees ingestel op die tekens wat hulle gee. Hulle is nie dom nie, hulle weet wat in die wêreld rondom hulle aangaan, hulle kan dit net nog nie behoorlik verwoord nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Naas? ·

Jig Naas, jy is ‘lenient’ wat sou hardearbeid gehelp het? daai vrou is siek ek sou haar gewurg het. Jy het seker nie kinders nie boet?

Liza ·

Ek persoonlik dink hierdie gebeur meer gereeld as wat ons dit wil weet. Mens glo en vertrou jy laat jou kinders by iemand wat mooi na hulle sal kyk, jy kon hierdie nie voorspel nie mevrou. Baie bly sy is ok en lyk soos ‘n pragtige prinsessie!

Margaret ·

Ek is seker jy is reg. En nie net deur oppassers nie. Met ma’s en pa’s wat net nie weet wat om te doen met n kind wat huil nie. Ek dink dit is n aaklige geluid ( jammer maar dit is waar!) NIE dat dit die optrede enigsins regverdig nie.

Genieve ·

My hart is sommer seer van vooraf..maar ek is bly dat sy ok is en mooi vorder.

Anoniem ·

Dankbaar dat daar tegnologie is wat help om die skuldige vas te trek ! Dink mooi voordat Jy ‘n kind te na kom ! Dankie, dankie !

Pitty ·

Wat help tegnologie as daar reeds skade angerig is. Dis jou kind. Jy moet eenvoudig nie jou toekoms ( jou kind) an vremde anvertrou.

Ongeduldig ·

Ek het geen geduld vir mense wat DIT aan babas/ kinders doen nie. My seun, op daardie stadium 3 jaar oud, het so gehuil en siek geword wanneer ons voor die kleuterskool se hek gestop het. Ek het hom uitgehaal. Hy is in n andet kleuterskool geplaas en het floreer! Dit het later aan die lig gekom die ‘hoof’ van die skool, het nie van seuns gehou nie. Sy het kinders selfs in badkamers toegesluit. Sulke mense behoort in n koue, nat put gegooi te word!!!

Se maar net ·

Ongeduldig ek stem saam jou, ek haat dit as mense dit aan kinders doen, en dis ni net di toesighouers ni dis partykeer mense wat dit aan hulle eie kinders ook doen vat bv. Klein poppie v/d merwe watse lyding moes sy deurmaak sulke elemente moet ni net in di nat out soos jy sê gegooi word ni hulle moet ni eers tronkstaf kry ni hulle moet summier gehang word soos in di ou era voor di publiek sodat almal kan sien wie di dade aangevang het, eks net bly vir di dingetjie dat sy heel anderkant uitgekom het sonder enige blywend letsels so ook met haar lewetjie-sterkte ou kleintjie ons wens jou net di beste van alles

AmY ·

Ongedulfig: Jy het die regte ding gedoen. Jy het na jou kind geluister. Jy het die tekens gesien.

Adriaan van Tonder ·

My dogtertjie is 1 maand jonger as Laila en dis hardverskeurend dat dit gebeur het. Ja dis reg om te vra hoekom en waarom dit met jou moes gebeur het. Maar hou op om te soek vir ‘n antwoord. Begin om ‘n antwoord te formuleer. Neem jou regverdige woede op en verander dit in ‘n krag om goed te doen. Ek glo jy het dit alreeds agter gekom :) Ek glo nie so iets kom van die Here af nie. Maar Hy wys jou hoe om daardeur te kom. Alle sterkte wens ek toe en ek bid vir julle

sannie ·

Baie emosionele en fisieke mishandeling waarvan niemand weet nie. Dink nie jy kan enigsins iemand vertrou met ‘n baba nie.alles het veranderbdie vrouens voel meer bemagtig en is dus nie meer lus om sleurwerk te doen nie. Iewers moet ‘n tannie wees wat ‘n ekstra geldjie wil verdien?

In diepte ·

My dogtertjie is 4 jaar oud. Vandat sy op 2 jarige ouderdom kleuterskool toe is, toe beeld sy als uit saans by die huis wat gedurende die dag by die skool gebeur. Die manier hoe sy speel, slaap en hoe met haar (hulle)gepraat was by die skooltjie. Al het ons gemaak asof ons nie na die dinge luister of sien nie het daar tog vloekwoorde deurgekom sekere aande. Alhoewel my kind op daardie stadium glad nie aan vloekwoorde blootgestel was by die huis nie. Ek het onmiddellik werk gemaak daarvan om haar by ‘n ander skool in te skryf en hulle het haar met ope arms aanvaar. My kind is so gelukkig die afgelope jaar. Sy beeld steeds uit wat in nuwe skool gebeur. Hier word heeldag gospel liedjies gesing en huis word vol briefies op papiertjies geskryf in haar eie woorde (kan nie lees of skryf)natuurlik.

DK ·

Ek stem saam. Luister na jou kind. Ons dogtertjie was in die duurste skooltjie in die dorp, vreeslik blink bo gelyk. Sy het oornag in ‘n huilerige kind ontaard. Haarself wakker gehuil, franties geskree as ek haar in haar karstoeltjie gesit het. Toe kom dit uit hulle strap die kinders in stoeltjies vas om hulself aan die slaap te huil as hulle nie wil slaap nie. Ek het haar dadelik uitgehaal en in ander skooltjie gesit en sy het daar floreer. Sy was maar 13 maande op die stadium en kon nie praat om te se wat pla nie maar het op haar manier gese sy is ongelukkig daar. So dankbaar ons het geluister. Ek is ook bly die poppie is okay, kan nog onthou hoe ontsteld ek was toe ek die video gesien het. 4 jaar is gans te min.

SandraF ·

Dit kan met enige weerlose mens gebeur. Hoeveel keer word ouer mense ook so mishandel en selfs gestremdes wat nie kan praat nie. Dink mens moet maar altyd probeer om kamaras op te stel sodat ‘n mens presies weet wat aangaan. Gelukkig kon hulle op die video sien wat daar gebeur het.

Martie ·

Sjoe kyk hulle sal my hande moet vasbind! Die oppaser sal nooit die son weer sien skyn nie!

Net 4 en ñ half jaar tronkstraf, ek dink dis hopeloos te min.

Db ·

My kleindogter was net oor ‘n jaar toe sy so geweldig gehuil het as sy by die kleurerskool afgelaai word. Ek kon nie dadelik besef dat dinge nie lekker is nie. Onverwags eendag gedurende werksure daar opgedaag en gehoor en gesien hoe die kleingoed verskreeu en geruk word omdat hulle nie doen wat die “juffrou” sê nie. Magtig hulle was net oor ‘n jaar en nog babas. Onmiddellik weggevat van daardie helhool en in ander kleuterskool gesit. Nie lank na dit is die die betrokke kleuterskool summier gesluit

Bertie ·

Ag jinne Laila, jy is soooooooo mooi!! ek sou jou opgevreet het van liefde! sterkte mamma en pappa en baie geluk met jul nuwe kleinding. Ons bid God se beskerming oor julle toe. Geniet hulle, want as jy weer sien, is hulle groot!

Jessica ·

Nou ja so sal ek haar laat sit as ek die baba se ouers was, lewens lank in die tronk, niks water of kos, daar is geen genade vir so iemand wat onskuldige baba’s of kinder’s mishandel nie, jammer maar ek is ‘n ma van 4 kinder’s en 3 klein kinder’s ek sal dood maak as ek so iet’s moet sien. Ek is erg gekant teen kinder mishandeling of vrouen’s wat mishandel word, ek word blou in my gesig. Haar tronk straf is nie genoeg vir wat sy die baba aan gedoen het nie, en as sy gesterf het wat dan of breinskade op gedoen het wat dan. dankie liewe Here sy is gesond.

Melanie ·

Ek sal heeltemal buite myself raak! ek dink ek sal aangekla word van moord, want die vet weet… my kinders of enige ander mense se kinders sal altyd voorgang kry en met liefde hanteer word! Dit maak my naar tot in my maag as ek sien deur wat daardie klein lyfie gegaan het… jis ek sal haar vrek maak.

GM ·

@Pitty, daar is baie mamma’s en pappa’s wat nie hul kinders aan vreemdelinge wil toevertrou nie, maar hoe gemaak as die pot aan die kook gehou moet word en hul al klaar al die luukshede uitgesny het en nogsteeds albei se salarisse nodig het om te oorleef? Dan is daar natuurlik ook baie enkelouers. Daar is ook nie altyd ‘n ouma of oupa wat kan help om die kleinkinders op te pas nie.

Ek is by die huis saam met my kinders, so ek weet watse opofferings daarmee gepaardgaan. Ek sien ook hoeveel werkende ouers uitmis op hul kinders se grootword proses – die oppasser sien dalk hul kind se eerste treë, of hoor dalk sy/haar eerste woordjie, hul mis baie van die oulike sê-goed en kattekwaad wat hul peuter/kleuter aanvang ens.

Maak nie saak watse besluite ouers maak nie (hetsy omdat hul wil of uit nood uit), als het voor- en nadele..

ap ·

wow as dit my kind of kleinkind was het die simpel ding eers n goeie paar klappe gekry voordat ek haar laat toelsluit het

Leandi Botha ·

My hart bloei vir julle. Ons oudste seun is deur presies dieselfde. Die vrou wat hom opgepas het, het hom aangerand. Sy het so met hom tekere gegaan dat die bure begin vra het waarom hy so huil. Sy het bly sê dis omdat hy na ons verlang. Hy was ergter so getraumatiseerd dat hy heeltemal ophou praat het. Hy het nie eens gegroet nie. Gelukkig het die bure kom praat toe madam op kraam verlof gegaan het. Hulle het haar aangevat, maar elke keer wanneer hulle met haar gepraat het, het sy dit op my seun uitgehaal. Dit het hom 7 maande geneem om weer te begin praat. Hy is vandag ‘n gelukkige, gesonde seuntjie en ons bid ook dat hy geen letsels oorgehou het nie.

Liezel ·

Baie dankie vir hierdie artikel. Dit is so lekker om te weet dit gaan goed met haar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.