Twee kapers in Mpumalanga aangekeer

(Foto: SAPD Mpumalanga)

Twee vermeende kapers is in twee afsonderlike voorvalle in Mpumalanga in hegtenis geneem.

Brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie, sê een van die verdagtes, ʼn 37-jarige man, is Woensdag in hegtenis geneem toe hy en nog verdagtes ʼn vragmotor in Hazyview op die R40 naby Da Gamadam wou kaap.

“ʼn Vragmotorbestuurder het Woensdag omstreeks 10:00 op die R40 in Kiepersol naby Nelspruit in die rigting van Hazyview gery. ʼn Silwerkleurige Chevrolet Corsa-bakkie met vier insittendes het hom agtervolg. Hulle het ʼn vuurwapen op die bestuurder gerig en hulle het hom beveel om stil te hou.”

Die vragmotorbestuurder kon gelukkig die paniekknoppie druk en owerhede insluitend Netstar, Taysec-sekuriteit, die provinsiale spoorspan en sigbare polisiëring van Hazyview in kennis stel.

“Dit het die verdagtes afgeskrik en hulle het weggery, maar wetstoepassers het hulle agternagesit toe hulle die motor opmerk. Die bestuurder van die bakkie het beheer verloor oor die voertuig.” Die motor het van die pad afgery en in bosse beland.

Twee verdagtes het weggehardloop. Twee verdagtes het beserings opgedoen en is in hegtenis geneem.

‘n Vuurwapen is in die motor gevind (Foto: SAPD Mpumalanga)

ʼn Vuurwapen met ammunisie is in die verdagtes se besit gevind. Ballistiese toetse sal gedoen word om te bepaal of dit in enige ander misdaad gebruik is.

“ʼn Ambulans is na die toneel ontbied, maar voor paramedici opgedaag het, het een van die verdagtes aan sy beserings beswyk. Die beseerde verdagte is na ʼn hospitaal geneem vir behandeling en is later ontslaan.”

Hy sal na verwagting Maandag in die Kabokweni-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot roof en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Intussen is ʼn 29-jarige man ook Woensdag in hegtenis geneem op aanklag dat hy deel is van ʼn groep verdagtes wat ʼn man se motor in Balfour wou steel.

“ʼn Man het op 14 Desember in ʼn goudkleurige Kia Picanto op die R23 van Heidelberg in die rigting van Balfour gery. Hy het vir drie mans ʼn rygeleentheid aangebied.”

Terwyl hulle gery het, het een van die mans die bestuurder gevra om stadiger te ry. Een van die rylopers op die agterste sitplek het daarna die bestuurder met ʼn tou begin wurg.

“Die man het met die verdagtes gestoei en die motor tot stilstand gebring. Ander motoriste het stilgehou om hulp aan te bied en die drie verdagtes het weggehardloop.”

Die voorval is by die polisie in Balfour aangemeld en beamptes het dadelik ondersoek ingestel.

“Een verdagte is dieselfde dag nog omstreeks 18:10 in Balfour in hegtenis geneem. Hy staan tereg op aanklag van poging tot kaping en sal na verwagting Maandag in die Balfour-landdroshof verskyn.”

In albei gevalle duur die ondersoek voort en die polisie is op die spoor van die oorblywende verdagtes.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.