Twee keer lewenslank vir DA-man se moordenaars

(Argieffoto: Unsplash)

Die vyf mans wat skuldig bevind is aan die moord op die DA-wyksraadslid Johannes Baatjies (49) en sy sakevennoot, Shuping Nose, is Vrydag vir dié dubbelmoord in die Noord-Kaap gevonnis.

Baatjies is op 17 Augustus 2016 na ʼn sogenaamde sakevergadering gelok en het vir Shuping saamgeneem. Hulle is met hul aankoms daar in ʼn lokval gelei. Die twee is dood aangetref op die pad tussen Daniëlskuil en Postmasburg. Baatjies is twee keer in die kop en een keer in die bors geskiet. Hy is ook agter ʼn voertuig gesleep.

Nose is in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal in Kimberley gehaas nadat hy in die bakkie geskiet is. Hy het ʼn paar dae later aan sy wonde beswyk.

Richard Hasane (36), Richard Magawu (32),  ʼn voormalige ANC-wykskandidaat, Matthews Legodi (52), Frank Baxane (34) en Charles Mpondomisa (42) is in Mei reeds almal skuldig bevind op twee aanklagte van moord. Hulle is ook skuldig bevind aan die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Benewens Magawu, wat 36 jaar tronkstraf opgelê is, is die ander vier moordenaars tot twee keer lewenslank vir die twee moorde gevonnis.

Baxane en Mpondomisa is elk ʼn bykomende vier jaar tronkstraf opgelê vir die besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Genl.maj. Kholekile Galawe, provinsiale hoof van die Valke in die provinsie, het die ondersoek- en vervolgingspan vir hul werk geloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.