Twee matriekeksamen-vraestelle oorgeskryf

(Argieffoto)

Die tweede wiskundevraestel en die tweede fisiese wetenskap-vraestel moet landwyd oorgeskryf word.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Vrydagmiddag aangekondig dat daar na afloop van ‘n vergadering van die raad van onderwysministers besluit is dat die twee vraestelle, wat tydens die eksamen uitgelek het, deur alle matrieks oorgeskryf moet word.

Die tweede wiskundevraestel sal op 15 Desember oorgeskryf word en die tweede fisiese wetenskap-vraestel op 17 Desember.

“Dit was nie ‘n maklike besluit om te neem nie maar een wat onder die omstandighede nodig was. Ons moet hard werk om die menslike faktor in die eksamenstelsel in ag te neem. Dit is duidelik diegene wat verantwoordelik was vir die uitlek van die vraestelle, is volwassenes.”

Volgens Motshekga is daar tydens die ondersoek na die uitlek van die vraestelle onder meer bevind dat die verspreiding daarvan op kubernetwerke dit bykans onmoontlik gemaak het om vas te stel hoeveel leerders uiteindelik toegang tot die uitgelekte vraestelle gehad het.

“Ons het met sleutelaandeelhouers in die saak, soos skoolbeheerliggame, die Vereniging vir Skoolhoofde, onderwysvakbonde en Umalusi hieroor beraadslaag. Daar was ooreenstemming oor die behoefte om die integriteit van die eksamen te beskerm en die boosdoeners wat die toekoms van leerders op die spel geplaas het, aan die kaak te stel.”

Die departement gaan nou sy pogings versterk om soortgelyke voorvalle in die toekoms te verhoed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Chantel ·

So never mind die kinders wat GLAD NIE vraestelle gehad het nie, moet ook nou hieronder lei. Dis SIEK!!!!!!!

Cherokee ·

Dit klink nie asof jy ‘n ander voorstel kan opper nie. Jy kan nie slegs kritiseer sonder om ‘n alternatief voor te stel, nie.

Mickey ·

watse wiskunde word oor geskryf, ek dink jy kry drie verskillende wiskunde levels

Chantel ·

Mickey, as ek reg verstaan, slegs Wiskunde. Wisk G en Teg Wisk word nie vermeld nie

Casper ·

Ja gelukkig het ek in 1976 matriek klaar gemaak.In die ou bedeling het vraestelle nie uitgelek nie.Ek dink vandag gaan dit oor swak sekerheidsmaatreëls en gierigheid want ek is seker die vraestelle is gekoop.

Tanya ·

My matriekkind is in trane!!! Hierdie gemors regering moet VOETSEK?!!!

Karel Kobus Kruger ·

Hulle moes in die eerste plek nie die regering gewees het nie. Maar nou ja……1992……goedgelowigheid…..JA stem……

Jaco ·

Net die moeilike vakke wat op vaste onveranderbare wetenskaplike reëls berus, se vraestelle lek uit. Maklike vakke soos lewensoriëntering en toerisme word uitgelos.

Fritz ·

Ek het nie kinders nie (genadiglik nie), maar sover ek weet is daar mos 2 tipes eksamen. Een vir privaat skole en een vir die res. Ek neem aan dis die staatskool vraestel wat uitgelek het. Dit SAL weer en weer en weer gebeur. Kwaad word, vloek en huil gaan nie help nie. Dalk moet Afrikaanse skole oorskakel na die privaatskool se eksamen.

Angelique ·

Hierdie is n moedbreker vir kinders wat reeds baie hard gewerk het in n deurmekaar jaar En so baie vlugte en verblyf moet nou op eie koste verander word Dit bly onregverdig En die meeste gaan beslis nie weer so hard hiervoor leer nie Vasbyt Matrieks

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.