Twee met leeukop betrap

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Glen Carrie/Unsplash)

Twee mans is Donderdag in Noordwes met ʼn leeukop betrap nadat hulle dit glo aan ʼn tradisionele geneser wou verkoop.

ʼn Polisiebeampte het hom voorgedoen as ʼn geneser en die mans só by ʼn vulstasie in Zeerust vasgetrek.

Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, sê die mans het van Thembisa noordoos van Johannesburg na Zeerust gereis om die transaksie met die “geneser” te doen.

Die mans wou na bewering nagenoeg R350 000 in ruil vir die leeukop hê.

Die Valke se eenheid vir organiseerde misdaad het saam met die Leruhutshe-honde-eenheid, Zeerust se eenheid vir veediefstal en lede van die departement bosbou, visserye en omgewing die transaksie onderskep en die mans in hegtenis geneem.

Die onwettige besit van ʼn leeukop is in stryd met die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en Biodiversiteit.

Die span het beslag gelê op die leeu se kop vir verdere ondersoek. Die verdagtes het die dier se kop glo in swartsakke vervoer.

Dit is egter nog nie duidelik hoe die twee mans, onderskeidelik 54 en 62 jaar oud, die dier se kop in die hande gekry het nie.

Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die Zeerust-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Swerwer ·

Is dit dalk een van die leeus wat ontsnap het uit die Kruger Wildtuin se kop?

Harley Davidson ·

Wat sal die aanklag wees en wat sal die straf wees ,ek weet van baie wilds” lodges” wat gemonteerde of opgestopte leeus ten toon stel.

Cherokee ·

Dit gaan minder oor die besit van ‘n leeu se kop, as oor waar dit vandaan is en hoe dit gekry is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.