Twee ontvoerde studente teruggevind

Fadi Said Elhadi Mohamed Hamoud (31) en Muwmin Hitham Kamel Gaber (19) (Foto: Yusuf Abramjee, Twitter)

Twee studentevlieëniers van Egiptiese herkoms is Vrydag ná sowat ʼn maand uit die kloue van twee ontvoerders gered.

Die studente, Huwmin Hitham Kamel Gaber (19) en Fadi Said Elhadi Mohamed (31), het op 14 Mei vermis geraak. Hulle is studentevlieëniers by ʼn instelling in Vereeniging, Gauteng.

Volgens lt.kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, was die studente die laaste keer by ʼn klub in Primrose, Germiston, gesien. Hul gehuurde voertuig is verlate langs die R59-roete gevind.

Daar is ook ʼn losprys vir die studente geëis. Die polisie het nie die bedrag van die losprys gespesifiseer nie.

“Die polisie se teenontvoeringstaakspan wat gestig is om ontvoeringsake op te los, het inligting opgevolg en die twee studente Vrydag in ʼn huis in Bryanston gevind,” bevestig Netshiunda.

Twee verdagtes, Jonathan Swart (35) en Ronz Matthew (49), is in verband met die studente se ontvoering in hegtenis geneem.

Hulle het Maandag in die landdroshof in Vereeniging op aanklagte van ontvoering en afpersing verskyn.

Die saak is tot 20 Junie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.