Twee seuns verdrink by Nature’s Valley

Stiltetyd_Natures-Valley-Boekevat-Foto-Melanie-Schlenter.jpeg

Foto bloot ter illustrasie: Melanie Schlenter

Twee seuns het Saterdagmiddag in die Nature’s Valley-strandmeer naby Plettenbergbaai verdrink toe hulle saam met ʼn maat op ʼn kajak op die strandmeer in die Grootrivier gevaar het en in die moeilikheid beland het.

Een van die seuns kon egter na die oewer swem om hulp te ontbied.

Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), is die NSRI Plettenbergbaai Stasie 14-diensbemanning omstreeks 14:40 ontbied.

“Ons het ʼn oproep ontvang dat twee seuns besig is om te verdrink in die Nature’s Valley-strandmeer. Die Nature’s Valley NSRI-kuswag is onmiddellik geaktiveer en NSRI-reddingswerkers het hulle na die toneel gehaas.

“Twee NSRI-reddingsbote is uitgestuur en kon daarin slaag om die strandmeermond te navigeer om die strandmeer binne te gaan.

“’n Voertuig van NSRI Plettenbergbaai, wat by Nature’s Valley gestasioneer is, is ook uitgestuur,” sê Lambinon.

Die polisie, sowel as hul waterpolisiëring- en duikdienste, asook Health EMS en Plettenbergbaai First Responders het op die noodoproep gereageer.

Volgens Lambinon word daar berig dat drie seuns –  vermoedelik tussen die ouderdom van agt en tien jaar – op ʼn kajak op die strandmeer was toe hulle in die moeilikheid beland het.

“By ons aankoms op die toneel is een van die seuns opgespoor en uit die water gebring, hy is egter – nadat alle pogings aangewend is om hom te resussiteer – op die toneel dood verklaar.

“NSRI het later die tweede seun se lewelose liggaam in die strandmeer opgespoor en uit die water gebring. Hy is ook op die toneel dood verklaar,” sê Lambinon.

ʼn Berader het die oorlewende seun in die oomblikke bygestaan ​​voordat hy later in die sorg van sy ouers geneem is.

“Die twee seuns se liggame is aan die staat se forensiese patologiedienste oorhandig en die polisie het met ʼn geregtelike doodsondersoek begin.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rika ·

Baie tragies. Ek wonder waar die ouers was? Hulle was baie jonk om alleen op die water te wees in ‘n kajak. ????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.