Twee sterf in ‘padwoede-voorval’  

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Kent Williamson)

Die polisie in Limpopo is op soek na ʼn paartjie nadat twee mans tydens ʼn beweerde voorval van padwoede geskiet is.

Die voorval het op Nuwejaarsdag in Roerfontein, sowat 60 km buite Tzaneen, plaasgevind.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het die polisie inligting ontvang van ʼn skietery in ʼn straat naby ʼn hotel en het polisiebeamptes hulle na die toneel gehaas.

“Voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat ʼn man glo deur sy vriendin na die toneel ontbied is. Sy het glo in ʼn stilstaande motor vasgery waarna die bestuurder van die motor glo haar motor se sleutels by haar afgeneem het.”

Volgens Mojapelo het die man glo op die toneel aangekom en sonder om ʼn woord te uiter twee mans geskiet voordat hy in ʼn wit Nissan NP 200 van die toneel gevlug het.

Die twee slagoffers is in private voertuie na ʼn hospitaal gehaas. Een van die voertuie het tydens die rit na die hospitaal omgeslaan en die slagoffer het aan sy beserings beswyk. Die ander slagoffer is kort ná sy aankoms by die hospitaal dood verklaar. Die oorledenes is Thabo Lawrence Masia (32) en Jeffrey Masetla (38).

Die polisie het intussen ʼn reusesoektog na die man en sy vriendin van stapel gestuur. Sake van moord, poging tot moord en strafbare manslag word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Samuel ·

Wat gaan aan in ons land dat mense sommer net vuurwapens uitpluk en skiet? Is daar dan geen respek meer vir menselewens nie?

Perdeby ·

Ongelukkig het hulle geen respek vir geen mense se lewe nie.

Nie Verbaas ·

Net soos ek al gesê het. Denke laat nie toe om aan nagevolge te dink nie, of eerder tekort aan intellek.

Johannes_64 ·

Klink meer asof die vrou se man op ‘n roof afgekom het as enige iets anders. Daar is nie protokol wat aandui ‘n persoon word op die plek vergoed vir sy skade nie, en die derde party word ook nie outomaties die eienaar van die skuldige se eiendom op die plek nie.

ES ·

En die bewysreg veronderstel dat jy nie iemand mag skiet tensy jou lewe in onmiddelike gevaar is nie en jy mag ook nie iemand dood om jou eiendom te beskerm nie.

Elmarie ·

Liewe hemel hoe haak mense se koppe so uit! Kyk nou wat se moeilikheid het hul ondeurdagte daad vir hulle veroorsaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.