Twee vas vir ontvoering, kaping

(Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Twee verdagtes, onderskeidelik 24 en 30 jaar oud, is Dinsdag in hegtenis geneem nadat hulle glo ʼn motor gekaap en twee mense ontvoer het.

Die twee slagoffers, ʼn man (25) en ʼn vrou (42), is omstreeks 19:00 by Stanfords Cove in Gansbaai met ʼn vuurwapen gedreig, waarna hul motor gekaap is en hulle ontvoer is. Die verdagtes het later die man gedwing om kontant by ʼn OTM op Bredasdorp te trek.

Volgens lt.kol. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, was die polisie op Bredasdorp omstreeks 21:40 op die uitkyk vir ʼn gekaapte voertuig toe hulle ʼn bakkie gewaar het wat aan die beskrywing van die gekaapte motor voldoen.

“Hulle het probeer om die voertuig te stop, maar die bestuurder het weggejaag waarna ʼn hoëspoed-jaagtog gevolg het. Die pad is egter oomblikke later deur polisielede versper en die voertuig is tot stilstand gedwing.

“Die lede het die voertuig deursoek en die slagoffers wat vroeër ontvoer is, is gevind.”

Die polisie het die twee verdagtes in hegtenis geneem en op ʼn 9 mm-pistool en ʼn onbekende bedrag kontant beslag gelê.

Die twee verdagtes staan ​​tereg op aanklag van kaping, ontvoering en afpersing asook die onwettige besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.

“Albei verdagtes sal na verwagting môre (Donderdag) in die Bredasdorp-landdroshof verskyn.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pawiljoen Rot ·

Onbekende bedrag geld? Daai onbekende bedrag geld het al lankal verdwyn.

christo ·

Welgedaan aan die Polisielede! Die beamptes wys dat daar wel nog lede wat hulle beste gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.