Twee verdrink by Valsbaai; nog een vermis

Argieffoto: NSRI

Twee mense het verdrink en ʼn jong pa word steeds vermis nadat swemmers by die Sonwabe-strand vandeesweek in die moeilikheid beland het.

Bemanningslede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) op Strandfontein is Maandag omstreeks 13:30 na dié strand in Valsbaai ontbied nadat hulle inligting oor moontlike verdrinkings ontvang het.

Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, sê volgens die inligting het vier mense in ʼn sleurstroom beland en is hulle dieper in die see ingetrek. Die stad Kaapstad se waterreddingsnetwerk is ook na die toneel ontbied.

“By ons aankoms op die toneel is ʼn 18-jarige van Woodstock op die strand aangetref. NSRI-medici het met kunsmatige asemhaling begin, waarna nooddienste later aangesluit het in ʼn poging om die jong man se lewe te red.

“Nadat geen van die pogings suksesvol was nie, is die 18-jarige dood verklaar,” sê Lambinon.

ʼn Agtjarige en ʼn 12-jarige seun, glo neefs, was by die NSRI-bemanning se aankoms reeds uit die see gered. ʼn 28-jarige man, die pa van die agtjarige kind, word egter steeds vermis.

“Die agtjarige kon ongedeerd en sonder hulp uit die see kom. Twee barmhartige samaritane het die 12-jarige uit die water gehelp en probeer om die 28-jarige man op te spoor en ook uit die see te red.

“Die 12-jarige seun is per ambulans na die hospitaal vervoer vir waarneming van nie-dodelike verdrinkingsimptome. Hy is die broer van die 18-jarige wat verdrink het,” sê Lambinon.

Die soektog na die vermiste man duur voort.

Lambinon sê die familie het ruimte vir privaatheid in hierdie moeilike tyd versoek.

Hy sê terwyl reddingsbote langs die kuslyn op dié voorval gereageer het, is hulle sowat ʼn halwe kilometer van die toneel deur lede van die publiek voorgekeer.

“Tydens ʼn ondersoek van die NSRI is ʼn 24-jarige man van Manenberg op die strand aangetref nadat omstanders hom uit die water gered het.

“Hy was op die strand en het glad nie ʼn polsslag gehad of asemgehaal nie,” sê Lambinon.

Hy sê alle pogings is aangewend om die 24-jarige man se lewe te red, maar hy is dood verklaar.

“Ons betuig ons innige meegevoel aan die familie van die 18-jarige sowel as die familie van die 24-jarige man,” sê Lambinon.

Die liggame van die oorledenes is aan die staat se forensiese patologiedienste oorgegee en die polisie doen twee geregtelike doodsondersoeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.