Twee vermeende bankkaartdiewe in Welkom vasgetrek

(Foto: Facebook/ Swellendam Municipality -SWEMun)

Twee vermeende bankkaartdiewe is Vrydagoggend vasgetrek ná hulle by Manny’s-supermark in Kroonstad glo ʼn slagoffer van ʼn bankkaart beroof het.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê lede van Welkom se honde-eenheid is omstreeks 07:00 oor die verdagtes ingelig wat glo in ʼn silwer sedan gery het.

“Kroonstad Buurtwag het dadelik hulpbronne ontplooi om die verdagtes op te spoor en agterna te sit. Die voertuig is oomblikke later opgemerk waar dit teen ʼn hoë spoed in Welkom se rigting gejaag het. Lede van die honde-eenheid het die verdagtes kort daarna naby Riebeeckstad by Welkom tot stilstand gedwing.

“Die twee insittendes is deursoek, waarna kontant ten bedrae van R3 100 by hulle gevind is. Voorlopige ondersoek toon dat dieselfde verdagtes ʼn man in Senekal van sy bankkaart beroof het, en ʼn bedrag van R3 700 uit sy rekening onttrek het.”

Thakeng sê die silwer sedan waarin die verdagtes weggejaag het, kom van  ʼn voertuighuurdiens in Welkom.

“Die twee verdagtes, onderskeidelik 36 en 48 jaar oud, is op aanklag van roof, besit van vermoedelik gesteelde eiendom en roekelose en gevaarlike bestuur in hegtenis geneem.

“Daar is beslag gelê op ʼn silwer Hyundai i20 met ʼn GP-registrasienommer, twee selfone, twee Okapi-messe, strokies, papiere, sowel as kontant ten bedrae van R3 100.”

Die verdagtes sal binnekort in die Welkom-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.