Twee wat in Jhb-vliegongeluk sterf se name bekend

Pratham Subedi

Die twee mans wat in Sondag se vliegongeluk in die Nasrec-omgewing in Johannesburg dood is, is onderskeidelik van Iran en Nepal.

Die Nepalese ambassade het bevestig dat die studentevlieënier wat in die ongeluk dood is, ʼn burger van die land is. Hy is geïdentifiseer as die 19-jarige Pratham Subedi. Volgens die ambassade word reëlings getref om sy liggaam terug in Nepal te kry.

Die instrukteur wat in die ongeluk dood is, is as die 28-jarige Arian Assad van Iran geïdentifiseer. TimesLive berig Assad het die afgelope vyf jaar in Suid-Afrika gewoon. Hy is glo 10 maande gelede getroud. Sy liggaam sal na Iran gerepatrieer word.

Die vliegtuig het omstreeks 09:00 naby die FNB-stadion neergestort nadat dit by die Grand Central-lughawe opgestyg het.

Arian Assad

Die vliegtuig, na verneem word ʼn Piper Twin Comanche, is glo in die ongeluk heeltemal verwoes. Albei slagoffers is op die toneel dood.

Sisa Majola, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO), het gesê die owerheid sal binne 30 dae ʼn voorlopige verslag oor die ongeluk bekend maak.

“Die vliegtuig het van die Grand Central-lughawe in Gauteng op ʼn opleidingsvlug vertrek met die bedoeling om weer by dieselfde lughawe te land.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Wat maak Iranese vlieginstrukteurs in Suid-Afrika? En heel ironies gebeur die ongeluk toe op dieselfde dag as die Yeti ongeluk in Nepal.

Hennie ·

Vliegskole gebruik n skuiwergat om hierdie mense werk te gee nadat hulle opleiding in SA ontvang het. Dit ontneem Suid-Afrikaners van werk. Onaanvaarbaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.