Tweede asem wink vir Houtbaai-hawe

Die beloofde opknappingswerk aan die Houtbaai-hawe vorm deel van ‘n projek om 13 hawens in die Wes-Kaap te verbeter. (Foto: Matthew Hirsch/GroundUp)

Deur Matthew Hirsch, GroundUp

Broodnodige opknappingswerk aan die geplunderde Houtbaai-hawe word in die vooruitsig gestel.

Beplande opgraderings sluit in ʼn moderne visverwerking- en verpakkingsaanleg, terwyl 15 jaar lange vissersregte teen Oktober op die laatste toegeken sal word. Dit behoort net betyds te wees vir die Weskus se kreefseisoen.

Die aankondiging van die beoogde opgraderingswerk is gedoen by ʼn interregering-gemeenskapsvergadering wat onder andere deur die minister van openbare werke, Sihle Zikalala, amptenare van die departement van bosbou, visserye en omgewingsake en die stad Kaapstad, sowel as inwoners, bygewoon is.

Zikalala het vantevore al gesê dat R500 miljoen toegewys gaan word vir herstelwerk aan en instandhouding van 13 hawens in die Wes-Kaap. Hy sê die nuwe verwerking- en verpakkingsaanleg in Houtbaai gaan werksgeleenthede skep en geleenthede vir vissers gee om hul vangs te verkoop.

Opknappingswerk aan die hawe, wat deur misdadigers en vandale geplunder is, sluit in die herstel van sleephellings, die verwydering van skeepswrakke, nuwe veiligheidsmaatreëls, die opknapping van die visvlek-stoor en opgraderings aan die elektriese infrastruktuur.

Abongile Ngqongwa, adjunk-direkteur-generaal van kleinskaalse visserybestuur, sê vissers met meer as tien jaar se ondervinding in vissery-verwante bedrywe sal koöperatiewe kan vorm. Dié koöperatiewe sal gemik wees op diegene wie se inkomste afhang van visverwante bedrywighede en mense wat “woon in gemeenskappe wat as vissersgemeenskappe verklaar is”.

Kleinskaalse vissers altyd agter in tou

Ngqongwa sê dit is opvallend dat 70% van kleinskaalse vissers nie by enige ander ekonomiese bedrywighede, benewens vissery, betrokke is nie. “Ons moet ondersteuningsprogramme vir die kleinskaalse vissersbedryf fasiliteer,” sê hy.

Die beskikbaarheid van mariene hulpbronne moet egter ook in gedagte gehou word wanneer vissersregte toegeken word. “Om ons hulpbronne te bestuur, moet ons verseker dit is ook volhoubaar.”

Prof. Moenieba Isaacs, verbonde aan die Universiteit van die Wes-Kaap se instituut vir armoede-, grond- en landboustudies (bekend as Plaas), sê egter die regering het ʼn besluit geneem om groot visserymaatskappye te ondersteun, omdat dit kwansuis húlle is wat werksgeleenthede skep.

“Oor die jare het hierdie groot maatskappye nie meer werk geskep nie – hulle het afgeskaal. En baie van die mense wat agtergebly het, is in die kleinskaalse vissersbedryf opgeneem,” sê sy.

Isaacs sê ook wanneer dit kom by die volhoubaarheid van visvoorraad, is die regering “uiters versigtig” in die toekenning van vissersregte. En dan weer het die regering nog altyd eerder in die guns van groot maatskappye beslis.

“Dit is die maatskappye met die groot vistreilers wat die voorraad uitput; nie die kleinskaal vissers nie.”

Isaacs sê ʼn produksie- en verwerkingsfasiliteit by die hawe is ʼn stap in die regte rigting, mits kleinskaal vissers dit bedryf en daarby baat. “Dit is ʼn positiewe inisiatief. Houtbaai is ʼn tradisionele mark waar jy baie toeriste aantref.”

Ontsluit groot potensiaal

Sommige rolspelers sê dit is maklik om verby die departement van openbare werke se aandeel in die probleme by die hawe te kyk. Die departement het byvoorbeeld ʼn voormalige vismeelfabriek sedert 2021 sonder ʼn huurder laat staan. Dit het beteken die gebou is omtrent heeltemal gestroop.

Dit is ook belangrik om behoorlike insette uit die gemeenskappe te kry.

Gregg Louw, voorsitter van die Hout Bay Aquafarmers Cooperative, sê die grootste probleem is die gebrek aan ʼn verhouding tussen inwoners en die regering. Hy sê terwyl die voormalige vismeelfabriek byvoorbeeld steeds aan ʼn groot maatskappy verhuur kan word, kan plaaslike vissers ook toegang daartoe gegee word.

“Hou op om na ons te kyk as net goed genoeg vir werk doen; ons kan ook mense in diens neem. Geleenthede is geweldig belangrik,” sê Louw.

Zikalala sê die regering besef dat Houtbaai omring word deur voorheen benadeelde gemeenskappe en dat hulle by die ekonomiese voordeel van hawens moet baat.

Die polisie het reeds ʼn veiligheidsassessering van die Houbaai-hawe gedoen en die departement het dié aanbevelings in werking gestel. Kringtelevisiekameras, die opknapping van valhekke, grensmure en omheining en veiligheidsbeligting is ingesluit in dié aanbevelings.

Rob Quintas, burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit en ʼn wyksraadslid vir Houtbaai, sê die departement se verbintenis om te verseker dat Houtbaai sy volle potensiaal bereik is goeie nuus en dat daar aansienlike maatskaplike en ekonomiese potensiaal in opgesluit lê.

Quintas het al in Mei in ʼn brief aan Zikalala gesê die stad wil saam met die nasionale regering werk om alle moontlikhede te ontgin.

“Die hawe is ʼn diepgewortelde deel van die maatskaplike, ekonomiese en kulturele welstand van die gemeenskap waarin dit geleë is. Dit kan voordeel trek uit ʼn soort privaat-staatsbelegging wat die karakter van die hawe behou, terwyl die potensiaal vir verandering ook ontsluit word,” sê hy.

Kaapstad steun ook die plan vir ʼn ruimtelike en sosio-ekonomiese ontwikkelingsraamwerk vir Houtbaai wat alles van kommersiële en kleinskaal visserye, toerisme en ontspanning ondervang.

  • Die berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Privaatbeleggings? Van waar? Wie gaan verseker dat plundery nie weer gebeur nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.