Twis oor Kaapse onafhanklikheid verdiep

Phil Craig, leier van die RP (Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Die Referendum Party (RP) betwis die bewerings wat glo deur die DA se federale voorsitter, dr. Ivan Meyer, in Netwerk24 gemaak is – dat die DA nie ʼn referendum oor Kaapse onafhanklikheid kan uitroep nie en dat die VF Plus mense mislei deur te suggereer dat die DA dit wél kan doen.

“As Meyer korrek aangehaal is, is hy óf ekonomies met die waarheid, óf hy het dit heeltemal verdraai,” sê Phil Craig, leier van die RP.

Meyer beweer dat wetgewing nodig is voordat ʼn referendum uitgeroep kan word en dat die DA reeds hierdie wetgewing in die parlement ingedien het. Hy suggereer dat ʼn referendum nie moontlik is voordat sodanige wetgewing aanvaar is nie.

Hy beweer verder dat verkiesingsresultate bewys het dat daar geen ondersteuning is vir die idee van Kaapse onafhanklikheid nie.

Craig sê egter dat albei bewerings inherent oneerlik is.

“Dit vorm deel van ʼn doelbewuste veldtog van waninligting wat die DA gebruik om openbare ondersteuning vir Kaapse onafhanklikheid te verminder, terwyl dit eintlik spoed optel.

“Die Referendum Party het dokumente op hande wat elk van hierdie bewerings kan bewys,” sê Craig.

Hy meen Meyer is dus onder die omstandighede geensins opreg om die VF Plus daarvan te beskuldig dat hulle mense mislei nie.

“Die VF Plus is korrek, die DA kan ʼn referendum oor Kaapse onafhanklikheid uitroep, maar hulle wil dit net nie doen nie.

“Hul gebruik van waninligting om die feite vir hul eie kiesers te verberg, spreek boekdele,” sê Craig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johan ·

Die DA is ook maar net nog n klomp magbehepte politici….soos hulle almal.

Manie ·

Die DA speel die politieke spel en sal nie nou voor die verkiesing Kaapse onafhanklikheid ondersteun nie. Die DA glo dat hulle gaan deel wees van die nuwe koalisie regering wat SA gaan regeer en enige sprake van Kaapse onafhanklikheid sal meebring dat hulle in die res van die land stemme gaan verloor, want kiesers sal dit as verraad teenoor die res van die land beskou. Kom ons wag maar en kyk wat hulle na die verkiesing gaan doen wanneer die koalisie regering nie realiseer nie.

Delia ·

Nee wat, niemand staan saam. Wes Kaap gaan ook ondergaan weens verdeeldheid

Bolandse Nooi ·

@Manie, ek en jy stem saam. Ek hou nie my asem op oor enige koalisie regering behalwe dié van die ANC en EFF nie. Mense wat dink dat die ANC en hul stemmers net so handjies-gevou gaan terugstaan as hulle níé die meerderheidsstem kry nie, leef in ‘n droomwêreld.

Gawie ·

Kan die mense nie maar net saamstem nie? Nou wil elke ou sy eie storie maak om beter te lyk as die ander.

Cherokee ·

righto Gawie, ek het ook my eie storie, wat heel anders is as ‘n ja of nee vir Kaapse onafhanklikheid. Waaroor ek my verwonder, is die vraag of die Kaap nie dalk grootliks moslem gesind is, nie. ‘n Groot massa van die kleurlingbevolking is dalk moslems, en as die Kaap onafhanklik sou word, hoop ek dit is nie nog ‘n moslem regering opons voorstoep nie.

Cassie Carstens ·

Cherokee, jy kan heeltemal reg wees. Maar die onafhanklikheid storie gaan nie werk nie. Die RP en wie ookal weet nie wat hulle doen nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Cassie, Suid-Afrika werk ook nie. Daar is geen manier dat die Handves ‘n merk gaan maak in die verkiesing nie. Die ANC sal nie mag afstaan nie. Selfs al gebeur ‘n wonderwerk en die Handves neem oor sal dit net vir een onstabiele termyn wees. Die radikales sal sterker word en die land weldra oorneem en verder oor die afgrond dryf. Vraag is: Wat nou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.