Twis oor plaasaanvalle-statistiek ‘verskuif fokus van werklike probleem’

Argieffoto: Reint Dykema

’n Groot debat is weer ontketen aangaande misdaadstatistiek oor aanvalle en moorde op plase.

Die debat oor statistiek rakende plaasaanvalle- en moorde het gevolg ná berigte in die Engelse media dat plaasmoorde op die laagste vlak in 20 jaar is en dat “afgesonderdheid” die rede is vir die brutaliteit waarmee plaasaanvalle en -moorde gepaardgaan.

Volgens Henry Geldenhuys, adjunkpresident van TLU SA en voorsitter van die organisasie se nasionale veiligheidskomitee, moet daarteen gewaak word dat die fokus nie verskuif word van die werklike probleem – naamlik dat elke moord op ’n plaas een moord te veel is nie. “Ons raak besig met mekaar oor hoe statistiek bygehou word in stede daarvan om te fokus op die misdaad self.”

Geldenhuys het sy kommer uitgespreek dat, ten spyte van die feit dat landbouers oor ’n tydperk heen baie moeite gedoen het en steeds doen om na hulle eie veiligheid en dié van hul plaaswerkers om te sien, daar steeds ’n stygende tendens is van plaasaanvalle en -moorde.

“TLU SA se skrywe aan die minister van polisie, waarin versoek word dat ’n geleentheid geskep word vir kruiskontrolering van statistiek sowel as gesprek oor die daarstel van ’n spesialis-eenheid om plaasmoorde te ondersoek, is nog onbeantwoord.”

Berigte in die Engelse media het statistiek aangehaal wat deur Agri SA in ’n verslag ingesluit is. Kobus Visser, Agri SA se direkteur van landelike veiligheid en algemene sakekamer, het gesê wanneer statistieke van die polisie, soos in die parlement bekend gemaak is, vir die afgelope ses jaar van nader beskou word, het plaasaanvalle toegeneem en moorde op ’n jaar tot jaar basis afgeneem.

“In die periode 2001/2002 is die hoogste voorkoms van plaasaanvalle in die geskiedenis geregistreer met 1 069 wat in die betrokke jaar voorgekom het. Die hoogste voorkoms van moord was in die 1997/1998-periode, naamlik 153 moorde. Oor die afgelope 19 jaar, vanaf 1996/1997, het 12 567 aanvalle en 1 733 moorde voorgekom, met ’n gemiddeld van 661 aanvalle en 91 moorde per jaar.”

Volgens Visser spreek dié syfers egter boekdele rakende die omvang van plaasaanvalle en die veiligheidsbedreiging wat landelike gemeenskappe daagliks moet trotseer. “Betroubare statistieke is noodsaaklik om ’n akkurate bepaling van die omvang van plaasaanvalle en -moorde te doen. Dit is ook ’n hulpmiddel om tendense te bepaal en [vas te stel] waar hulpbronne aangewend moet word om die misdaadprobleem te hanteer. Daar moet egter gewaak word om nie verkeerde inligting by die statistieke in te sluit en daardeur ongegronde afleidings te maak en emosies aan te vuur nie.”

Oor die brutaliteit waarmee plaasaanvalle- en moorde dikwels gepaardgaan het Visser gesê mense wat op plase in landelike gebiede woonagtig is, is veral kwesbaar aangesien hulp in sulke gevalle lank neem om op te daag weens die geïsoleerdheid van die plaas. “Dit bied aan aanvallers die geleentheid om langer op die perseel te vertoef, en die kanse is dan groter dat die slagoffer onderwerp kan word aan ’n hoë mate van geweld en brutaliteit –  teenoor misdade wat in stedelike gebiede gepleeg word en hulp van die polisie, sekuriteitsmaatskappye en bure wat vinniger kan opdaag.”

Visser het bygevoeg die voortgesette aanvalle op die boerderygemeenskap bly kommerwekkend “veral waar die gemeenskap verantwoordelik is om voldoende voedsel aan die groeiende bevolking te voorsien, iets wat hulle by uitnemendheid regkry”.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het egter gesê dit is onwenslik om getalle slegs oor 20 jaar te vergelyk, aangesien dit in wese nie vergelykbaar is nie “weens die drastiese tendensverskille wat plaasvind wanneer politieke leierskap, polisiebestuur en algemene misdaadtendense verander”.

“Ons getalle wys duidelik dat daar ʼn toename is in plaasaanvalle dwarsdeur die land; om te sê dat dit laag is of selfs die laagste in twee dekades, is ʼn wanindruk wat by die publiek geskep word,” het hy bygevoeg.

AfriForum en ANI sal aan die einde van Julie 2018 sy 2017/2018-plaasaanvalleverslag bekendstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

As die plaasmoorde nie n rassistiese oorsprong het nie, waarom getuig die oorlewendes van sulke aanvalle van uiterste rassistiese belededigings tydens sulke aanvalle. Of is die aanvallers en mense van kleur “untouchables” tov van rassisme?

Al

Die brutaliteit en marteling teen onskuldiges sê iets van die samelewing waarin ons bly.
Dit op sigself behoort vir enige land ñ skande wees – die Regering behoort hul te skaam dat hul nie hierdie boosheid effektief wil bestry nie.
Sies ANC!

bolla

Maar vir die rekord kan dit darem sekerlik nie te moeilik wees om by die korrekte syfers uiteindelik uit te kom nie want dit veroorsaak onsekerheid oor wie vertrou kan word en wie nie. Ek bedoel daar is darem ‘n moewiese verskil tussen die rapportering van 60 plaasmoorde per jaar (soos amptelik deur die polisie en regering beweer) en 90 plaasmoorde per jaar (soos deur AgriSA beweer). VERGELYK EN KOM BY DIE KORREKTE GETALLE UIT ASB.

Jack Russl

Die syfers word aangepas, soos vele ander statistieke, sodat die prentjie wat die regering uitgee beter lyk.

Soos verlede week berig is daar ‘n aanval op ‘n kleinhoewe gewees, volgens die polisie is dit nie ‘n plaasaanval nie. Hoeveel sulke gevalle is daar?

Ek het ‘n paar jaar terug ook by betroubare bron gehoor nadat hy by persone was wat beroof is dat gewapende roof slegs so geklasifeseer is indien iemand seergekry het. In hierdie geval is daar gate in die mure van die skietery, maar dis nie ‘n gewapende roof nie. So ek vra weer, hoeveel soortgelyke gevalle is daar nog?

Tiaan

Gebruik AgriSA die polisie se statistieke?