Tydelike behuising vir slagoffers van Wupperthal-brand

Meer as 60 huishoudings se woonplekke is in die brand by Wupperthal in die Wes-Kaap verwoes. Foto: Facebook

Die Morawiese Kerk het grond beskikbaar gestel vir noodbehuising vir die slagoffers van die verwoestende brand op 30 Desember 2018 by die eertydse Morawiese sendingstasie by Wupperthal in die Wes-Kaap.

Die brand het talle mense dakloos gelaat en het verskeie geskiedkundige kulturele geboue verwoes.

Die kerk het Sondag in ʼn verklaring gesê hy het twee stukke grond van sowat sewe hektaar beskikbaar gestel binne die grense van die sendingstasie waar noodbehuising as tydelike maatreël vir slagoffers opgerig sal word. Die grond sal gebruik word om behuising te voorsien aan die meer as 60 huishoudings wie se woonplekke in die brand verwoes is.

Die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings sal hierdie week die oprigting van die tydelike noodbehuising in samewerking met plaaslike owerhede van stapel stuur. Die noodbehuising sal ook water, sanitasie, elektrisiteit en ander basiese dienste aan die inwoners lewer.

Die brand het blitsvinnig deur die strooidakhuise versprei. Foto: Facebook

Die kerk het gesê terwyl dié noodbehuising tydelike verligting vir die slagoffers sal bied, is planne reeds aan die gang om ʼn nuwe nedersetting te ontwikkel wat die kulturele en nasionale geskiedkundigheid van die dorp in ag sal neem. Dié ontwikkeling sal in konsultasie met die Morawiese Kerk as die geregistreerde grondeienaar gedoen word.

Maroela Media het vroeër berig nagenoeg 200 van Wupperthal se 2 000 inwoners is haweloos gelaat in die brand wat die middag omstreeks 17:00 ontstaan en in ʼn oogwink deur dié historiese woonbuurt versprei het. Die grootste gedeelte van die bewoners van die vernietigde huise is pensioentrekkers wie se huise nie verseker was nie. Hulle kan dus nie bekostig om self hul woonplekke, waarvan baie sowat 180 jaar oud is, te herbou nie.

Wupperthal, sowat 75 km suidoos van Clanwilliam, is net per grondpad bereikbaar. Die dorpie is in 1829 vir die Rynse Sendinggenootskap deur die skrywer C Louis Leipoldt se oupa Johann Gottfried Leipoldt gestig en genoem na die vallei of dal van die Wupperrivier in Barmen, Duitsland, waar die sendinggenootskap se hoofkantoor was.

Die voormalige sendingstasie is vandag ʼn streeksentrum met ʼn poskantoor, skool, kliniek, kerk en kerkkantoor, winkels en ʼn skoen- en handskoenfabriek, waar tradisionele velskoene vervaardig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.