Uber-bestuurder in kattebak gekry

(Foto: SA Police Service/Twitter)

ʼn Uber-bestuurder wat Sondag in die vroeë oggendure in Port Elizabeth ontvoer en beroof is, is ongedeerd in die kattebak van sy motor gevind.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, het gesê die man se twee vermeende kapers is intussen ook aangekeer.

Die Uber-bestuurder het gister omstreeks 05:15 twee klante by die Virgin Active-gimnasium in Humerail opgelaai en hulle het gevra dat hy hulle na Colchester neem.

Daar aangekom, het hulle aan hom beduie om op ʼn grondpad te ry en hom daar beveel om te stop.

“Een van die verdagtes was met ʼn mes gewapen en het die slagoffer gedreig en van sy persoonlike besittings beroof.

“Hy is daarna in die kattebak van sy blou Suzuki Swift gestop. Hulle [die verdagtes] het in die rigting van Port Elizabeth gery, waar hulle glo die voertuig in Gelvandale probeer verkoop het,” het Janse van Rensburg gesê.

Omstreeks 08:25 het lede van die polisie se honde-eenheid ʼn wenk gekry oor ʼn verdagte voertuig wat in Fitchardstraat in Helenvale opgemerk is. Hulle het die verdagtes in samewerking met lede van die blitspatrollie aangekeer.

“Die voertuig is deursoek en die 23-jarige Uber-bestuurder is in die kattebak gekry.”

Die Kinkelbos-polisie ondersoek die voorval. Die twee mans verskyn later vandeesweek in die Motherwell-landdroshof, het Janse van Rensburg gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sê net ·

Presies hoe dom kan jy wees? Jy bestel die Uber en dan beroof jy hom. Al jou belangrike detail is op rekord. Duh!

Stiks ·

Jy maak net nie gebruik van uber taxies nie “ finish en klaar” !

GM ·

@Stiks, in dié geval is dit die bestuurder wat beroof is, en nie passasiers nie.

Antoinette ·

Sticks die Uber taxi bestuurder is ontvoer dis nie anders om nie. Uber taxi bestuurders se lewens is in gevaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.