‘Uber is vir mense, nie honde,’ hoor blinde vrou

Jeanne-Mari en haar gidshond, Tara. (Foto: Verskaf)

ʼn Jong blinde vrou van Johannesburg was nou al meer as een keer gestrand gelaat nadat Uber-bestuurders volstrek geweier het dat haar gidshond saam in die voertuig ry.

By een geleentheid moes Jeanne-Mari Viviers (32), wat in die regsbedryf werk, hoor dat Uber “vir mense en nie vir honde” is nie. Tydens ʼn meer onlangse voorval in Maart vanjaar het die betrokke Uber-bestuurder onder meer gesê haar gidshond, ʼn hoogsopgeleide labrador met die naam Tara, hou ʼn “gevaar vir sy lewe” in en dat dit “teen Uber se beleid” is dat honde in dié voertuie ry.

“Dit is die meeste van die tyd hul verskoning,” sê Viviers.

In werklikheid maak Uber se beleid dit egter duidelik dat gidshonde (en ander diensdiere) wel welkom is en dat daar geensins teen mense met gestremdhede gediskrimineer mag word nie.

Daar is ook die Uber Assistfunksie, wat juis deur mense met gestremdhede of ander uitdagings gebruik word en spesiaal ontwerp is om hierdie mense by te staan.

Volgens Viviers het hierdie opsie haar en talle ander blindes egter al telkemale in die steek en gestrand gelaat.

“Elke dag is reeds vir ons ʼn uitdaging, nou word ons op dié manier nog verder van ons onafhanklikheid ontneem,” het sy vandeesweek aan Maroela Media gesê.

Viviers was boonop al stoksielalleen deur ʼn Uber-bestuurder langs die pad agtergelaat met net haar hond en selfoon in die hand. Dit nog in die aand ook. Sy sê dat Uber-bestuurders dikwels ook met hul aankoms ʼn gidshond saam met ʼn blinde persoon sal gewaar en dan bloot die rit kanselleer en wegry.

“Dit veroorsaak baie angs en jou maag is heeltemal op ʼn knop. Oral waar jy gaan – selfs winkel toe – moet jy stres en wonder of iemand jou wel gaan oplaai, sal jy kan kom waar jy moet wees en gaan jy eers met iemand moet baklei om jou en jou hond te vervoer.

“Ons honde is opgelei en hulle is skoon. My hond sit boonop op die vloer van ʼn voertuig en nie eers op die sitplekke nie. Sy slaap ook gewoonlik gedurende ritte. As ons honde enige aggressie teenoor enigiemand toon, word hulle boonop onmiddellik aan die gidshondprogram onttrek.”

Viviers verduidelik dat sy op die betrokke dag in Maart buite haar woonplek in Morningside vir ʼn Uber gewag het wat haar na ʼn werksfunksie moes neem. Die man het geweier dat Tara inklim en glo ook aangevoer dat Uber Assist nie vir “mense soos” Viviers is nie, maar vir “ou mense”.

Sy het die voorval, soos in die ander gevalle ook, by Uber aangemeld.

Uber het aan Maroela Media bevestig dat hulle van dié voorval bewus is.

“Die bestuurders het ʼn waarskuwing ontvang weens hul gedrag teenoor die passasier. Waarskuwings is van kardinale belang aangesien dit die vermoë het om die inkomste van die bestuurder te beïnvloed sowel as moontlike deregistrasie in die geval waar verskeie klagtes teen die bestuurder ingedien is,” het Mpho Mutuwa, kommunikasiehoof van Uber in Suid-Afrika, gesê. 

“Die passasier se aangemelde ervaring is onaanvaarbaar en ons deel haar teleurstelling en verontwaardiging. Ons gemeenskapsriglyne verbied bestuurders om dienste aan persone met gestremdhede te weier en ons het toepaslike stappe gedoen. Alhoewel dit nie ’n algemene voorval is nie, neem ons dit ernstig op en moedig ons mense met gestremdhede aan om Uber Assist te kies, ’n eerste in die mark wat ontwikkel is met die doel om te verseker dat passasiers met gestremdhede maklik kan kom waar hulle moet kom.”

Mutuwa sê indien daar enige probleme met ’n rit is, moet dit dadelik by Uber aangemeld word deur die hulpknoppie op die Uber-toepassing te gebruik wat ook ’n ingeboude stemfunksie vir siggestremdes het.

“Ons gaan voort om saam met verskeie belanghebbendes te werk om bestuurders op te voed oor wette rakende mense met gestremdhede. In Suid-Afrika het ons gemeenskapsriglyne waaraan alle gebruikers op die platform moet voldoen.

“Hierdie riglyne stel dit duidelik dat dit onaanvaarbaar is om teen iemand te diskrimineer op grond van ouderdom, kleur, gestremdheid, geslagsidentiteit, huwelik- of burgerlike vennootskapstatus, swangerskap, nasionale oorsprong, voorkoms, ras, geloofsoortuigings, politieke sienings, seksuele oriëntasie of enige ander eienskap wat ingevolge toepaslike wetgewing beskerm word.”

Kommer oor ‘soortgelyke klagtes’ 

Hoewel Uber aanvoer dat die voorval nie algemeen is nie, het die Gidshondvereniging van Suid-Afrika aan Maroela Media gesê dat hulle verskeie soortgelyke en kommerwekkende klagtes oor Uber en ander e-taxidienste van lede van die siggestremde gemeenskap ontvang. Die vereniging is ook bewus van Viviers se voorval.

Pieter van Niekerk, hoof van openbare betrekkinge by dié vereniging, sê hulle het nog nie bevredigende terugvoer van Uber oor die aangemelde klagtes ontvang nie. “As ʼn siggestremde persoon het ek soortgelyke voorvalle beleef.

Dit lyk egter of beloftes van e-taxidienste om probleme te hanteer en diens te verbeter net leë beloftes is,” het Van Niekerk gesê. “Volgens veral Uber se gemeenskapsriglyne laat hulle wel gidshonde toe, maar dit gebeur al hoe meer dat ons klante gestrand en in die steek gelaat word – dikwels in baie gevaarlike situasies.

“Die gevaar wat dit inhou dat ons siggestremde gebruikers langs die pad gestrand gelaat word, kan nie genoeg benadruk word nie. Dit is ’n onhoudbare situasie. Verder is Uber veronderstel om ’n spesialisdiens vir passasiers met gidshonde aan te bied, maar ons gemeenskap kry tot dusver beslis geen verligting of vreugde uit hierdie toevoeging tot die toepassing nie.”

Van Niekerk sê voorts iemand met spesiale behoeftes het die volste reg om deur hul gidshond of diensdier vergesel te word. Hy meen dit is egter steeds ʼn wêreldwye uitdaging – veral wanneer dit by vervoer en e-taxidienste kom – selfs al word bewusmaking daaroor gedoen.

Jace Nair, uitvoerende hoof van Blind SA, het ook bevestig dat dié organisasie al met soortgelyke voorvalle te doen gehad het waarby Uber en minibustaxi’s betrokke is.

“Hoewel die Handves van Regte en ander wetgewing beskerming teen diskriminasie bied, bly houdings, ingesteldhede en vooroordele egter steeds aanwesig. Blind SA het bewusmakingsveldtogte met die media, diensverskaffers en die gemeenskap onderneem. As blinde en swaksiende persone moet ons voortdurend bewustheid skep en mishandeling, uitbuiting en diskriminasie uitlig,” het Nair gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lillian ·

Is dit nou nie ‘n patetiese verskoning nie!!! Ek sal my skaam as ek die taxi bestuurders is.

Cindy ·

baie mense het ‘n werklike vrees vir honde – so moet hulle nou maar net die vrees sluk sodat ander nie verontrief word nie? Sekerlik moet daar ‘n opsie wees om te noem dat jy ‘n gidshond saam jou het sodat die bestuurder vooraf weet? Voor ek nou gestenig word, ek self is gestremd

TruthDealer ·

Ai is daar dan nie iemand in haar woonbuurr of stad wat haar kan help nie? Ek kyk so op my dorp se Whatsapp groepe en daar is soveel mense wat bereid is enige en alle dienste te lewer vir n ekstra geldjie. Sekerlik moet daar tog een of twee persone wees wat n ooreenkoms kan maak met Jeanne-Mari en haar daagliks vervoer teen betaling?

Astrain ·

Maklike oplossing – sit ‘n screen tussen voor sitplek en agter sitplek in. Gidshonde moet ten alle tye orals toegelaat word – dit is wet!

Jacques Dawie ·

Is die Uber bestuurder ge-fire? Want hy het nie sy pligte nagekom nie en het die Uber naam in gdrang gebring?

Niel ·

daar’s sover ek verstaan 2 tipe uber bestuurders. Een wat dit as ‘n voltydse beroep doen, en die ander uber wat ‘n ekstra inkomste wil verdien terwyl die persoon in dieselfde rigting beweeg. Beste toepassing op die uber-app sal moet wees ‘n opsie waar uber-bestuurders moet merk, geen honde/diere toegelaat. Dan wanneer die mense ‘n uber soek, sulke persone automaties nie gekies word as ‘n bestuurder nie. Iemand noem ‘n afskorting tussen voor en agter: soosgenoem, sommige mense gebruik hulle privaat voertuig vir ‘n ekstra inkomste terwyl hulle ook indiesefde rigting beweeg. (as ek reg verstaan is daar ‘n opsie waar jy jouself beskikbaar daardie dag as ‘n uber drywer tussen 2 punte min of meer. So wannee ‘n uber gesoek word dan kom jy op as ‘n opsie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.