Uitgeskopte Tshwane-burgemeester eis verskoning

Dr. Murunwa Makwarela, uitgeskopte burgemeester van Tshwane, eis ‘n verskoning van die stadsbestuurder. (Foto: Twitter)

Dr. Murunwa Makwarela, Cope-lid en uitgeskopte burgemeester van die Tshwane-metro, sukkel bloot om ʼn afskrif van die bewys dat hy gerehabiliteer is, op te spoor. Dit verander egter niks aan die feit dat hy steeds die burgemeester van die hoofstad is nie, voer sy prokureur in ʼn brief aan die stadsbestuurder aan.

Makwarela het onderneem om voor Vrydag 10 Maart ʼn bewys van dié rehabilitasie te lewer.

Die brief aan Johann Mettler lui dat Makwarela op 28 Februarie behoorlik tot burgemeester verkies is en dat hy “daardie posisie gevolglik vandag steeds beklee”.

Mettler het Makwarela op 6 Maart gevra om die bewys van rehabilitasie te lewer nadat dit aan die lig gekom het dat hy in 2016 insolvent verklaar is. Ingevolge die Grondwet mag ongerehabiliteerde insolvente persone nie as openbare verteenwoordigers in munisipale rade, die Nasionale Raad van Provinsies of die Nasionale Vergadering dien nie.

Daar word ook van raadslede verwag om enigiets te verklaar wat hulle moontlik kan verhoed om tot ʼn amp verkies te word. Makwarela het dit nie gedoen nie en Mettler het ʼn vakature verklaar nadat die inligting onder sy aandag gebring is.

“Ons kliënt bevestig dat hy in die Pretoriase hooggeregshof behoorlik gerehabiliteer is. Sy rehabilitasie is afgehandel lank voor hy tot burgemeester van Tshwane verkies is. Sy vertraging om ʼn afskrif van die hofbevel op te spoor, verander nie daardie wesenlike feit nie,” lui die brief van die prokureursfirma Witz Ingelyf.

ʼn Afskrif daarvan is onder meer ook aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) en die provinsiale kiesbeampte in Gauteng gestuur.

Mettler word in die brief daarvan beskuldig dat hy die inligting oor Makwarela onregmatig aan die media laat uitlek het en dat hy ondanks Makwarela se onderneming dat hy die bewys voor Vrydag sal lewer, steeds aan die OVK geskryf het om “te beweer dat ons kliënt gediskwalifiseer is daarvan om sy amp te beklee” en gevra het dat ʼn nuwe aanstelling gedoen word.

Makwarela se regspan voer ook aan Mettler het geen gesag gehad om te verklaar dat hy gediskwalifiseer word nie.

Makwarela beskuldig Mettler daarvan dat hy nie net buite sy magte opgetree het nie, maar dat hy ook “lasterlik” opgetree het. Hy eis dat Mettler die brief wat hy aan die OVK gestuur het, herroep en dat hy ʼn mediaverklaring uitstuur wat lui dat hy ʼn fout gemaak het met die bewering dat Makwarela nie sy bewys van rehabilitasie kon lewer nie.

Dié verklaring moet ook ʼn onvoorwaardelike verskoning aan Makwarela insluit vir die “onregmatige en onwaar bewerings”.

Mettler het tot die einde van Donderdag om hieraan gehoor te gee, of regstappe hieroor sal teen hom gedoen word.

Volgens die prokureursfirma beoog Makwarela ook om Mettler vir skadevergoeding te dagvaar vir die skade wat hy gely het en omdat sy goeie naam in oneer gebring is.

“Ons kliënt se grondwetlike reg op sy goeie naam en waardigheid is skade berokken en word steeds skade berokken weens jou onregmatige gedrag en ons sal jou aanspreeklik hou sover as wetgewing dit toelaat.”

Luidens berigte is die voordele wat Makwarela as burgemeester geniet, waaronder lyfwagte en ʼn motorbestuurder, reeds opgeskort.

Dennis Bloem, woordvoerder van Cope, het vroeër gesê die party is “geskok en teleurgesteld” oor die ongelukkige verwikkelinge en is onkant betrap daardeur. Hy sê Cope se nasionale leierskap het nie van die situasie geweet nie en die provinsiale leierskap is veronderstel om kandidate se agtergrond na te gaan.

“Ons is uiters bekommerd oor die kwessie en gaan geen steen onaangeroer laat om by die waarheid uit te kom nie. Ons sal die saak beslis ondersoek om vas te stel hoe dit moontlik was vir dr. Makwarela om deur die klaringsproses te glip,” sê Bloem.

“Ons is ewe bekommerd daaroor dat hy sedert November 2021 ʼn raadslid en speaker was sonder dat enige vrae gevra is. Iemand moet hierdie vrae beantwoord.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Sekere sertifikate en dokumente bêre jy veilig. As oud-burgermeester behoort hy dit te weet.

Eiervrug ·

Indien hy wel “net sukkel” om sy briefie op te spoor, is dit reeds rooi ligte…. Ek dink nie ‘n Burgermeester moet so deurmekaar wees dat hy nie eers sy eie papiere kan opspoor nie…

Amelia ·

Gaan dit hier oor groot salars kar lyfwagte ens of wil hy regtig iets omtrend Tshwane probeer doen dink is 1 ste stelling

Raadsman ·

So die beste kandidaat vir burgermester vir ‘n stad soos Pta is ‘n gerehabiliteerde passient wat nie eers sy eie finansies kon bestuur nie, maar wil nou dit vir ‘n hele stad doen.
Wel die res in die parlement moet nog gaan vir rehabilitasie as mens kyk na die hele land se fnansiele verknorsing en diefstal.

Bite Me ·

Nee ou pel. Jy sukkel al so lank om die afskrif te kry, nou eweskulik kan jy dit kry teen die 10de Maart?? Wonder hoeveel is hy bereid om te betaal dat die afskrif eweskulik verskyn voor more.

Delia ·

So wie gaan by nou betaal om daai brief voor more te laat verskyn

Eugene ·

Hy sit daai stoel omtrent vol. Wonder wat se dokter is Hy!.

VicinOz ·

Besigheids geleentheid – verskaf groter stoele aan die stadsrade en polisie stasies ;)

Johanna ·

Sal seker maar omkoopgeld aanbid en bewys dateer uit lank terug. Ken mos al die manier van doen

Kobus ·

Vra sommer vir Jacques Pauw of Pauli van Wyk (ondersoekende joernaliste) om te help mnr die gewese burgemeester. Hofbevele word mos op rekord gehou en ek glo enige prokureursklerk sal dit binne ‘n dag kan opspoor. Altyd die slagoffer. Waarom probeer Cope se mnr Bloem nie ook help nie of is die “skok” nog te groot?

annie ·

Mmm… Wie het sy skulde betaal? Jou eie prokureur kies sltyd jou kant. Wag vir die oom. Sy sports is nie verby nie.

Kenny ·

Moes geweet het hier gaan alles net oor geld
Dienslewering staan heel agter in die ry en vergaan

skurweberg ·

Net verskoning as die uitslag van ‘n eerste wêreldste Psigometriese en poligraaftoets die RHab bevestig.

Piet parys ·

Jy sal maar moet vir jou spitgraaf en spitvurk koop en bietjie gaan werk en jou sonde oordink . Sal sommer help vir die oor gewig ook .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.