Uitspraak kom oor Chevonne se dood

Rochelle Botha en Stefan van Niekerk (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Rochelle Botha en haar gewese verloofde, Stefan van Niekerk, se verhoor vir die moord op Botha se kleuter, Chevonne Rusch, is Vrydag afgehandel.

Die hof hoor al weke lank die omvang van die mishandeling en verwaarlosing waaraan Chevonne en haar sibbe onderworpe was.

Albei beskuldigdes ontken egter dat hulle ʼn hand in Chevonne se dood gehad het.

Moira Kloppers, woordvoerder van Action Society, sê die verhoor het Vrydag in ʼn sitting van die hooggeregshof in Palm Ridge voortgegaan.

Van Niekerk is deur die staat gekruisondervra nadat hy en Botha die afgelope paar weke hul weergawe van gebeure aan die hof voorgelê het.

“Van Niekerk het die aanklagte teen hom ontken en heeltyd herhaal dat hy ‘nie weet nie’ of ‘nie kan onthou nie’ wanneer die staat ʼn vraag gevra het,” sê Kloppers.

Van Niekerk het ook aangevoer dat hy onbewus is van die wonde en merke op Chevonne se lyf en beweer dat sy by trappe afgeval het.

Botha en Van Niekerk is verlede jaar in hegtenis geneem nadat Chevonne by ʼn kliniek in Klopperpark dood verklaar is.

ʼn Patoloog wat destyds die nadoodse ondersoek op Chevonne se liggaam gedoen het, het reeds getuig dat die tweejarige van kop tot tone beserings opgedoen het.

Altesaam 49 wonde, kneusplekke, skaafplekke en letsels is oor die kleuter se hele liggaam aangeteken.

Die gewese paartjie staan sedert Chevonne se dood tereg op aanklagte van onder meer moord, aanranding en verkragting.

Kloppers sê sy dink die staat het ʼn sterk saak teen Botha en Van Niekerk gemaak.

“Ons glo daar is genoeg bewyse dat Van Niekerk gewelddadig en beledigend was en dat Botha medepligtig en nalatig was,” sê sy.

“Ons glo geregtigheid sal geskied.”

Die regter sal na verwagting op 17 November uitspraak lewer in die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karoo ·

Hoe gerieflik om nie te kan “ontdou” of om net nie te “weet” nie. Natuurlik sal hulle dit soos lafaards ontken want hulle wil nie tronk toe gaan vir die dood van die ou dogtertjie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.