Uitspraak voorbehou in Zachary de Wet-saak

Zachary de Wet. (Foto: Verskaf)

Uitspraak in die saak teen Medihelp om die behandeling van ’n kleuter se seldsame siekte te dek, is Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria voorbehou.

’n Datum van wanneer uitspraak gelewer sal word, is nie in die hof bekend gemaak nie.

Maroela Media het vroeër berig dat Michaney en Jacques de Wet die hof in samewerking met die organisasie Rare Diseases South Africa op ’n dringende basis genader het om ’n vroeër uitspraak te bekragtig wat die mediese fonds beveel het om Zachary de Wet (3) se behandeling met ’n ensiemvervangingsterapie genaamd Elaprase te betaal.

Zachary ly aan Huntersindroom en Elaprase kan gebruik word om dié sindroom te behandel. Volgens Medihelp kos dit egter meer as R307 000 per maand.

“Zach het absoluut hierdie behandeling nodig en dit is ongelukkig dat die mediese fonds wil baklei eerder as om saam met ons te staan en ’n verskil te maak – nie net vir Zach nie, maar ook vir ander kinders wat seldsame siektes het,” het Michaney Woensdag aan Maroela Media gesê.

Michaney sê sedert haar seuntjie met Elaprase behandel word, maak hy baie goeie vordering.

“Hy het merkwaardige verbetering – neurologies en fisiek – in die afgelope drie maande op die behandeling getoon, en ons het mediese bewyse wat dit staaf.”

Weens die siekte kan Zachary se liggaam onder meer nie die spesifieke ensieme produseer wat nodig is om sekere suikers af te breek nie. Dit het ʼn uitwerking op verskeie liggaamlike funksies, onder meer hart- en breinfunksies.

Die hof het in Augustus beveel dat Medihelp, wat magtiging vir Elaprase aanvanklik afgekeur het, die behandeling moet betaal totdat ’n klagte by die Raad op Mediese Skemas (RMS) afgehandel is. Die klagte is vroeër deur Michaney teen Medihelp ingedien. Die fonds het ná die hofuitspraak magtiging tot Maart 2023 gegee, en klein Zachary het reeds in September met behandeling begin.

Die RMS het egter op 2 Desember beslis dat Medihelp nie vir die behandeling hoef te betaal nie, waarop die fonds dit summier gestaak het.

Die De Wets en RDSA het appèl teen die RMS se uitspraak aangeteken, en het die hof Dinsdag gevra om die vorige bevel te bekragting totdat die appèlproses by RMS in sy geheel afgehandel is.

Medihelp sê die fonds se interpretasie van die vorige bevel was dat Medihelp slegs die Elaprase moet betaal totdat die aanvanklike klagte afgehandel is, en nie verder nie.

Die RMS sê onder meer in hul uitspraak dat Medihelp wettig opgetree het toe hulle die behandeling destyds afgekeur het, dat Elaprase nie as ʼn hospitaalbehandeling by staatsfasiliteite beskikbaar is of deur die staat verkry word nie, en dus tot die gevolgtrekking gekom dat Elaprase nie as ʼn voorgeskrewe minimumvoordeel (VMV)-behandeling vir Huntersindroom beskou kan word nie.

Die RMS het ook uitgewys dat die medikasie nie kostedoeltreffend en bekostigbaar vir die mediese fonds is nie en nie noodwendig ʼn pasiënt se lewensgehalte sal verbeter nie. Die behandeling sal eindelik ook tot verhoogde premies lei en die fonds se volhoubaarheid in geheel negatief beïnvloed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.