Unisa-verslag: R285 000 vir gordyne, peperduur motor vir visekanselier

prof. Puleng LenkaBula, Unisa se rektor en visekanselier. (Foto: Unisa/Facebook)

Die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) het meer as R285 000 op gordyne bestee vir sy visekanselier se ampswoning sowel as R8 000 om iemand te leer om ʼn stofsuier te gebruik te midde van ʼn magdom probleme weens ondoeltreffendheid, nie-nakoming, ʼn toksiese kultuur en twyfelagtige besluite.

Dit is van die bevindinge in ʼn verdoemende verslag deur prof. Themba Mosia, viserektor van die Universiteit van Pretoria, wat as onafhanklike assessor aangestel is om probleme by Unisa te ondersoek. Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en innovasie, het Mosia in September verlede jaar aangestel om bewerings van onder meer wanbestuur te ondersoek. Mosia moes ook ondersoek instel na die doeltreffendheid van die universiteit se bestuur, sy beleid en prosedures en die bestuur van akademiese aangeleenthede.

Die verslag het hierdie week die lig gesien en bevat veral verdoemende bevindinge teen prof. Puleng LenkaBula, Unisa se rektor en visekanselier, wat in November 2020 die eerste vrou geword het om in die pos aangestel te word.

Daar is kort ná haar aanstelling reeds verskeie bewerings teen LenkaBula gemaak, onder meer omtrent verkrygingsprosedures wat gevolg is om vir haar ʼn ampsvoertuig te bekom, opknappings aan haar ampswoning, die eensydige implementering van salarisaanpassings deur LenkaBula en die beweerde versuim van die universiteit se raad om haar aanspreeklik te hou.

Luukshede, peperduur motor, ekstra ondersteuningspersoneel

Unisa het R1 miljoen begroot vir geringe instandhoudingswerk en opknappings aan Cloghereen, die amptelike woning van die visekanselier. Dit het ingesluit die opknap van die kombuis en werk aan die vloere, mure en tuin. Daar is ook begroot vir die aankoop van kombuistoebehore, meubels, gordyne en lugversorging.

Tot dusver is meer as R3,1 miljoen hieraan bestee. Die R1 miljoen wat begroot is, het slegs die opgradering van die kombuis en ander geringe instandhouding gedek. Daar is meer as R270 000 bestee op slaapkamermeubels, R600 000 op die vloere en meer as R3 000 vir ʼn matrasbeskermer.

Nuwe gordyne vir die ampswoning het die universiteit meer as R285 000 gekos en R8 000 is opgedok om iemand te leer hoe om ʼn stofsuier te gebruik – al is net ʼn stel trappe in die huis met matte bedek. Die res van die huis het teëls of houtvloere.

‘n Skermskoot van foto’s in die verslag

Mosia het self die ampswoning besoek en foto’s van die woning is by sy verslag ingesluit.

‘n Skermskoot van foto’s in die verslag

‘n Skermskoot van foto’s in die verslag

Na bewering het LenkaBula die verkryging van spesifieke items versoek wat nie geredelik in Suid-Afrika beskikbaar is nie en dus ingevoer moes word. Dit het tot ʼn vertraging van byna drie maande gelei.

Ondersoeke na die aangeleentheid het bevind dat die korrekte verkrygingsprosedures nie gevolg is nie en dat dissiplinêre stappe teen die vermeende skuldiges gedoen moet word. Volgens die verslag het LenkaBula ook nog nie in die amptelike ampswoning ingetrek nie en dít meer as twee jaar na haar aanstelling.

Volgens Mosia se verslag het LenkaBula ʼn ekstra personeelkomponent van nege mense vir haar kantoor geëis, insluitend ʼn personeelhoof, ʼn hoof van sosiale media, ʼn regsverteenwoordiger en verskeie assistente. Die nuwe opgeblase span sou die universiteit ongeveer R14 miljoen kos.

In haar aanstellingsbrief is LenkaBula daarop gewys dat sy toegelaat sal word om ʼn voertuig wat die universiteit verskaf te gebruik.

Daar is op 22 Desember 2020 opdrag gegee dat ʼn Mercedes Benz E 220d vir R1,2 miljoen vir LenkaBula se gebruik aangekoop word. Blykbaar is ʼn nuwe voertuig sowat twee jaar tevore gekoop en sou dit verkoop word toe die vorige visekanselier die universiteit verlaat het.

In Augustus of September 2021 is ʼn Mercedes Benz GLE 400d teen ʼn koste van R1,9 miljoen vir LenkaBula aangekoop; dit is R700 000 meer as waarvoor begroot is. Sy het glo aangevoer dat sy ʼn 4X4-voertuig verkies aangesien sy ook Unisa se kampusse in verskillende streke moet besoek.

Administrasie dalk voorland

Die Unisa-kampus in Sunnyside. (Foto: Izelle Jacobs/Unisa)

In sy verslag skryf Mosia dat LenkaBula nie voldoen aan die hoë standaard wat vereis word van ʼn persoon wat só ʼn pos beklee nie.

“Sy gaan selektief met die waarheid om en weier om verantwoordelikheid te aanvaar wanneer daar mislukkings in bestuur is. Sy kies om ondergeskiktes te blameer wanneer dinge verkeerd loop. Boonop doen sy dit in die openbaar. Dit laat ernstige twyfel oor haar kwaliteite van leierskap.”

Mosia beveel onder meer aan dat Unisa onder administrasie geplaas word. Dit sal beteken dat die raad en bestuur van hul pligte onthef word.

Nzimande sal intussen Mosia se verslag oorweeg en dan ʼn besluit neem. Unisa het bevestig dat hy die verslag Vrydag ontvang het en dat hy 14 dae, soos per die direktief van Nzimande, het om daarop te reageer.

“Die universiteit sal die verslag oor die volgende paar dae bestudeer met die doel om binne die vasgestelde tydraamwerk te reageer. Unisa wil ʼn beroep op die media en die publiek doen om geduldig te wees met die proses wat tans aan die gang is. Om dieselfde rede sal Unisa nog nie op medianavrae reageer nie,” het die universiteit in ʼn kort verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Stofdonkie ·

Uit al die proffesore in die regte, finansies en oudit rigtings kan hulle nie saamspan om die instansie behoorlik te bestuur nie? “Those who can’t practice teach” Daar is mense wat tot Doktors-grade verower deur die instelling maar die instelling self is bankrot en vol deurweek met bedrog.

George ·

Om n doktorsgraad deur unisa te doen, het niks te doen dat hul bankrot is nie. Jy verower hom deur midde van, nie agv nie.

Stofdonkie ·

Gengtig, soveel geld vir gordyne en toe kry hulle net kantgordyne? Ek verstaan nie…

Santie ·

JA NEE EK KORT OOK GORDYNE WIL HUL DIT NIE VIR MY AANKOOP NIE

Toergids ·

Hier ‘n miljoen, daar ‘n miljoen, en ek wag nog dat hulle my eerste opdrag vir die jaar merk

Stofdonkie ·

Mag ek aansoek doen om daar te gaan werk? Ek weet sommer klaar hoe werk die stofsuier. Het die persoon wat moes leer hoe die stofsuier werk nou ‘n graad in Stofsuier-bestuur?

Rooikoos ·

Ek sê maar eerder niks oor seker “geleerde” persone nie.

Joggie ·

Dit gaan soos by enige ander instansie waar die ANC kaders ontplooi is…

Patch ·

Skep, skep, skep…gee, gee, gee…
Dank haar af. Maar soos ons almal weet, dan word die volgende een aangestel wat ook sy/haar eise gaan stel en dit sal kry.

Rooi rissie ·

Nee dan het Eskom meer geld om te skep. Gee eerder daardie geld vir die minderheids volk wat so vreeslik verdruk word in hierdie land om te kan oorleef.

Pieter ·

As daai n Prof is, is ek n Meester oor alle Prof’s, Dr’s en meer. Gaan kyk waar koop sy haar papiere.

Henry ·

dit gaan te lekker
dit is hoekom dit so duur is om te studeer

bolletjie blom ·

As dit die gordyne is op die foto dan wil ek dit nie eers verniet hê nie. Niks in die huis is vir my mooi nie.

Piet parys ·

So hoe lank was sy in die tronk om haar prof te maak . Tyd laat sy terug gaan vir haar meesters graad in diefstal

kragaap ·

Ek sou gedink het sy sou weet hoe om met ‘n stofsuier te werk.

Skittles ·

Dink jy sy het self geleer om die stofsuier te gebruik?….Dink weer. Iemand word nog ‘n stewige salarissie betaal om dit te doen. En dan sien ek net teëls op die fotos….

kragaap ·

Ek weet nie moes dalk geleer het in ‘n vorige beroep. Teëls stem ek meë saam.

Heinrich ·

Dit kom daarvan wanneer jy die ANC se kriteria gebruik om iemand aan te stel ipv die persoon met die beste ‘track record’.

Martie Smartie ·

Korrup korrup korrup. Gn wonder studente nie geld vir studies nie. Lekker by die bak man, eet ons trommeldik

Hennie ·

Maar hoe dit in Afrika gedoen word. Melk n koei terwyl jy kan. Daai meubels en gordyne lyk maar swak kwaliteit en is definitief goedkoop.

skurweberg ·

Dit gaan meer vrae as hofsake om Suid Afrika te suiwer.

Eclectus ·

G’n wonder my stofsuiers hou nie, die huishulp het nooit die regte opleiding gekry nie. Ek gaan nou dadelik ophou Woolies avos eet en haar inskryf.

Anel ·

Ek dink vries haar bankrekening en verklaar dit verbeurt aan UNISA, nie die staat nie. En vat sommer haar pensioen ook. Sy bly nie eens in die huis nie! En hoekom moet sy ‘n staatshuis kry as sy nie daar bly nie? Sy gaan aan asof sy ‘n parlementslid is!! Geen opvoeding nie. Die hele spul van hulle!!!

Lillian ·

Daai kant gordyne kon hulle by PEP gekoop het. Mors van geld vir al daai fênsy goed.

Marius ·

Dra alles leeg… Wonder wat Mandela van sy ANC sal sê….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.