Upington-sakevrou se moord glo beplan

Judith Redelinghuys (Foto: Facebook)

Die drie verdagtes wat teregstaan op aanklag van die moord van Judith Redelinghuys (71), ʼn sakevrou van Upington in die Noord-Kaap, gaan nou eers volgende jaar verhoor word.

Tumelo Mavlenter Sotho, Martatjie Engelbrecht en Nkosinathi Ntombela het Maandag vlugtig in die hooggeregshof in Upington in die Noord-Kaap verskyn op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en dwarsboming van die gereg.

Die verhoor was veronderstel om vandag te begin, maar is uitgestel omdat Ntombela ʼn nuwe regsverteenwoordiger, adv. Japie Schreuder, aangestel het.

Redelinghuys se dogter het op 30 Junie 2020 op haar liggaam in die swembad by haar huis in ʼn woonkompleks in Budler Close, Upington, afgekom. Haar hande was agter haar rug vasgemaak.

Luidens die klagstaat het die drie beskuldigdes vooraf gekonkel om Redelinghuys te beroof en te vermoor.

Sotho het as tuinier vir Redelinghuys se bure gewerk en het dus toegang tot die kompleks gehad. Engelbrecht en Ntombela was ten tyde van die moord getroud gewees.

Tumelo Mavlenter Sotho, Martatjie Engelbrecht en Nkosinathi Ntombela het Maandag vlugtig in die hooggeregshof in Upington, Noord-Kaap verskyn (Foto: Anja van der Merwe)

“Op 30 Junie het Sotho vir Ntombela na die kompleks ontbied om hul planne deur te voer. Redelinghuys het Sotho toegang tot haar erf gegee, waarna hy en Ntombela haar oorval het,” lui die klagstaat.

Volgens die klagstaat het die twee beskuldigdes na bewering ʼn elektriese koord en ander voorwerpe gebruik om Redelinghuys te verwurg. Hulle het daarna glo haar hande vasgemaak, ʼn voorskoot oor haar mond en nek gebind en haar liggaam daarna in die swembad gegooi.

Die beskuldigdes het na bewering ʼn selfoon ter waarde van R10 000, kontant met dieselfde waarde, twee bankkaarte en juwele ter waarde van byna R250 000 gebuit.

Volgens die nadoodse ondersoek is Redelinghuys dood weens verwurging.

Ntombela is op 2 Julie in hegtenis geneem ná hy glo een van Redelinghuys se gesteelde ringe by Cash Crusaders in Upington probeer verkoop het. Die eienaar van die winkel het besef die ring is waardevol en het die polisie daarvan in kennis gestel.

Volgens die staat het Engelbrecht in ʼn beëdigde verklaring aan die polisie gejok en beweer die ring behoort aan haar. Sy het na bewering ook van die ander gesteelde goedere uit hul huis verwyder om te verhoed dat die polisie dit ontdek.

Regter Mpho Mamosebo het Maandag die verhoor tot 16 Mei uitgestel. Die verhoor is vir die 27ste Mei op die hofrol geplaas.

Redelinghuys was ʼn bekende sakevrou op die dorp. Sy was van 1993 tot 2012 eienaar van die Woolworths-franchise en van 1972 tot 1989 mede-eienaar van die Coca-Cola-botteleringsaanleg op die dorp.

Sy was ook betrokke by die ontwikkeling van die woonkompleks langs die rivier op die dorp waar sy tot haar dood gewoon het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Di ·

SKUIM van die aarde! Hoop hulle sit baie lank in die tronk. Jy kan hulle net nie meer vertrou nie.

Malan ·

Fantasties om te hoor daar is sulke plekke soos Cash Crusaders op Upington. Mense julle moet sulke besighede ondersteun.

SlinkseKoljander ·

Teen volgende jaar het Cybil hulle al laat gaan wat Covid is moes n groot probleem in die tronke.

Jakes ·

Tronkstraf is te maklik vir hulle. Ek kan aan beter maniere dink om hulle te straf.

Nico ·

Hoekom is die howe so traag om die beskuldigdes te verhoor en te vonnis, wil die howe nou dit so vertraag tot die dossiere verlore is.

Papsak ·

Ja howe baie traag om hulle te verhoor moet altyd uitgestel word want hoekom fot is mos wit wat vermoor is sowhat dit hulle houdings maar gaan maak van our people se mense seer of dood dan kyk jy hoe vinnig tree die howe op

Amelia ·

Sterkte aan haar familie wat deur baie pyn gaan.Julle is gedek onder baie gebede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.