Vakbond sê Prasa se ‘oorlogkamer’ is ondoeltreffend

Prasa (Foto verskaf deur Untu)

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) se sogenaamde “oorlogkamer” is ondoeltreffend en het geen impak op treindienste nie, het die United National Transport Union (Untu) Maandag gesê.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het verlede maand die sentrum in Germiston bekend gestel en het onderneem dat dit ʼn einde sal beteken vir pendelaars se probleme met treindienste.

Volgens die vakbond is daar egter geen verbeterings ʼn maand ná die sentrum op die been gebring is nie.

“Nie een van die treindrywers, wat lede is van Untu, het tot dusver ʼn telefoonnommer ontvang vir die ‘oorlogkamer’ waar hulle probleme op hul roetes kan aanmeld nie,” het Steve Harris, sekretaris-generaal van Untu, die meerderheidsvakbond by Prasa, in ʼn verklaring gesê. “[Die treindrywers] sien steeds hoe infrastruktuur deur kriminele geplunder word.”

Volgens Harris duur abnormale toestande ook voort met duisende treine wat maandeliks per hand magtiging moet kry. “Treindrywers landswyd, ook diegene wat vir die Transnet-vragspoornetwerk werk, meld daagliks diefstal van oorhoofse kabels aan.”

Metrorail se passasierspoordiens is berug vir sy onbetroubare diens wat duisende pendelaars gestrand laat. “Dit, tesame met oorlading, ongelukke, brandstigting en vandalisme, laat die treindienste vererger.”

Mbalula het onderneem dat die “oorlogkamer” ʼn ommekeer sal beteken vir treindienste. Hy het gesê dit sal diegene, wat in die sentrum ontplooi is, in staat stel om op ʼn uurlikse basis vinnig besluite te maak oor die inligting wat hulle van bedrywighede op grondvlak ontvang. ʼn Tegniese span van kenners sou ook die sentrum ondersteun, aldus Mbalula.

Volgens Harris het treindienste in KwaZulu-Natal egter “van sleg na kritiek verswak”. Hy het gesê werkende treine het die afgelope week van 35 tot 25 verminder.

“Volgens treindrywers in Gauteng verswak die situasie ook elke dag. Die harde werklikheid is dat Prasa, met sy sogenaamde oorlogkamers, en die Spoorveiligheidsreguleerder (RSR) bloot probeer voldoen aan die Pretoriase hooggeregshofbevel wat ʼn voorwaardelike veiligheidspermit aan Prasa uitgerek het. Dié bevel, ʼn verlenging van die eerste bevel deur regter Cassim Sardiwalle op 12 Oktober 2018, bied aan Prasa geleentheid tot 31 Oktober 2019 om die 52% vakante poste in KwaZulu-Natal te vul. Prasa moet ook maandeliks ʼn gedetailleerde verslag indien van die nakomings-aksieplan. ʼn Finale nakomingsasseseringskonferensie is geskeduleer voor regter Sardiwalla op 26 Februarie 2020.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johann cb ·

Daar is feitlik geen instansie in Suid-Afrika wat doeltreffend werk nie.

KrokodilBotha ·

Maroela media, die berig behoort onder die vermaak gedeelte. Ek lag my ook van my stoel af. Ondoeltreffend hahaha

Gert van Wierdapark ·

Lyk my die “Oorlog-kamer” se “bemanning” is ook “missing in action” soos CR!

Gert van Wierdapark ·

Die Kamer se manne het skynbaar ge-A-wol!!! He-he-he!!!

George in Bloem ·

Nee wat. Die ANC is nee eers in staat of bevoeg om ‘n skoolsnoepie te bestuur nie. Daar is net mooi niks,nie een enkele ding,wat hulle nie reeds opgemors het of besig is om op te mors of nog gaan opmors in hiersie eens pragtige land nie. Hulle is ‘n groter ramp as wat Apartheid ooit kon droom om te wees en niks sal hierdie land ooit weer kan regruk nie die 25 jaar plus ANC fiasko nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.