‘Valke-lid’ vas vir afpersing

(Argieffoto)

’n Man (46) is Dinsdag in hegtenis geneem nadat hy homself glo as ’n lid van die Valke voorgedoen en ’n man wat van bedrog beskuldig word, afgepers het.

Kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke, sê die verdagte het verlede week Donderdag die betrokke man gekontak en homself as ao. Masemola van die Valke in Germiston voorgestel. Hy het geëis dat hulle ontmoet om bewerings van bedrog teen hom te bespreek.

Die twee het later dié dag by ’n restaurant in Boksburg aan die Oos-Rand ontmoet waartydens die verdagte na bewering R500 000 van die man geëis het. Die verdagte het verder aangevoer dat sou die man versuim om dié geld te betaal, hy hom in hegtenis sou neem.

“Die saak is by die Valke aangemeld wat Dinsdag met die klaer se samewerking daarin kon slaag om die verdagte in hegtenis te neem nadat R10 000 in Kempton Park aan hom oorhandig is.”

Die verdagte sal na verwagting vandag in die plaaslike landdroshof verskyn vir beweerde afpersing.

Genl.maj. Ebrahim Kadwa, hoof van die Valke in Gauteng, het intussen die inhegtenisneming verwelkom.

“Ons doen ’n beroep op die publiek om enige verdagte optrede deur individue wat hulle as lede van wetstoepassingsagentskappe voordoen, om watter rede ook al, by die owerhede aan te meld.

“Die publiek moet waaksaam wees en te alle tye weet dat die polisie geen beloning mag ontvang omdat hulle hul werk verrig het nie,” sê Kadwa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

HAHAH, nie lank gevat nie. Geweet Valke sal een weer met n slim storie kom. Geld is n ewel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.