Die Valke het ʼn reuse deurbraak gemaak in hul ondersoek na ʼn transitorooftog wat Februarie by die Eikestad Mall in Stellenbosch in die Wes-Kaap plaasgevind het.
Kapt. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, het gesê ʼn 27-jarige verdagte is Vrydag vasgetrek vir sy beweerde betrokkenheid by dié roof op 6 Februarie.
“Die beweerde verdagtes het ʼn veiligheidswag aangeval en hom van sy handwapen en aanvalsgeweer beroof. Hulle het hom met kabelbinders vasgebind en toe gewag vir die wag wat die kontant in die kitsbank laai,” het Nkwalase gesê.
Twee verdagtes het hul wapens op dié wag gerig en hom in die kitsbankhokkie ingedwing. Daarna het hulle hom gedwing om albei kluise oop te maak en alle kontant aan hulle te oorhandig.
Die verdagtes het van die toneel gevlug met ʼn onbevestigde hoeveelheid kontant ná hulle beide wagte in die kitsbankhokkie toegesluit het.
Die verdagte sal Maandag in die Stellenbosch-landdroshof verskyn. “Nog inhegtenisnemings word verwag.”
Wel gedaan.