Van kunsdorp na slimdorp: Clarens bestuur eie krag

Clarens (Foto: Janco Scholtz)

Inwoners van die gewilde Vrystaatse kunsdorpie, Clarens, het voor 1 September 2023 laas beurtkrag gehad – dít danksy die slim tegnologie van ʼn sakeonderneming in die Wes-Kaap, die volgehoue inkoop van die dorp se meer as 7 500 inwoners én die ondersteuning van Eskom.

Clarens bestuur al die afgelope vier maande sy eie kraglading onder die konsep van ladingsbeperking (“load curtailment”), wat grensverskuiwend is vir ʼn dorp waar toerisme die grootste ekonomiese inspuiting is. Ladingsbeperking is nie ʼn nuwe konsep vir ondernemings in die land nie, maar wel ʼn eerste vir ʼn dorp in Suid-Afrika.

Dit word moontlik gemaak deur ʼn slimmeter wat by die dorp se hoof Eskom-kragtoevoerpunt geïnstalleer is. Dié slimmeter stuur elke 60 sekondes intydse data oor die dorp se huidige elektrisiteitsvraag na ʼn app, wat dan op toepaslike kommunikasiegroepe met inwoners gedeel word. Hierdie inligting help inwoners dan om die nodige hoeveelheid krag te verminder om druk van die netwerk af te haal.

Dit is dus nie nodig vir Eskom om die dorp se krag tydens geskeduleerde beurtkragtye af te skakel nie.

Dis egter ʼn proses wat deurlopend volgehou moet word en wat die samewerking van elke inwoner – insluitend inwoners van die informele nedersetting Kgubetswana – en sakeondernemings vereis.

Gert Kruger, Clarens se groepskoördineerder, is ook die direkteur van die maatskappy, Augos, wat die slimmeter ontwikkel het. Hy en sy kollegas het met die idee vorendag gekom om Augos se sagteware ook in ʼn residensiële gebied te beproef, waar dit voorheen net deur sakeondernemings gebruik is.

Clarens (Foto: Glen Green)

Die maatskappy, wat in die Wes-Kaap geleë is, bedink en ontwikkel al die afgelope 15 jaar oplossings om die uitwerking van Eskom se toenemende kraguitdagings op sakeondernemings in die land te verlig.

Augos werk veral nou saam met die Kaapstad-stadsraad om ondernemings te help om hul krag aan te hou.

“In Kaapstad het ons omtrent 35 nywerheidsgebiede (ongeveer 200 kliënte) wat op dieselfde [sagteware]program is. Toe kom die gedagte om dit dalk op ʼn residensiële vlak te doen.

“Ons het dit ondersoek en Eskom was gewillig om met ons daaroor te praat. Ons het hulle gewys wat ons gaan doen, ʼn paar proeflopies gehad en toe aanvaar hulle ons aansoek.”

Kruger sê kommunikasie en intydse inligting is die twee belangrikste elemente wat die projek dryf.

“Dít en ʼn bietjie groepsdruk,” skerts hy. Kruger sê inwoners help gou om mekaar verantwoordbaar te hou indien kragbesparingsteikens nie gehaal word nie.

Soms ontstaan klein geskille op die gesamentlike WhatsApp-groepe, maar tog trek elke inwoner voordeel uit die projek.

Groot verskil, nuwe hoop

Benewens die besparings wat inwoners en sakeondernemings nou op brandstof vir kragopwekkers het, het die dorp nou ook minder watertekorte aangesien waterpompe op die dorp ook van elektrisiteit afhanklik is.

Dit beteken ook dat toeriste aan Clarens ʼn ontspanne wegbreek in die berge kan geniet sonder die gedreun van kragopwekkers en lastige kragonderbrekings.

Clarens (Foto: Zane Frost)

Jacquie le Roux, ʼn argitek en voorsitter van die Clarens-belastingbetalersvereniging, sê dit is ongelooflik hoe mense uit die gemeenskap – almal met verskillende agtergronde – saamstaan om die sukses van die projek te verseker.

Sy sê Kruger se plan, wat aanvanklik “mal” geklink het, het aan die dorp ʼn fantastiese geleentheid gebied wat mense heelhartig aangegryp het.

Le Roux is ook trots op elke inwoner se poging – hoe klein hul rol ook al is – wat eindelik ʼn groot verskil vir almal maak.

“Dis wonderlik vir winkels, restaurante en gastehuise, maar ook vir die watersituasie. Jy kan nog sonder elektrisiteit lewe, maar om sonder water te lewe is katastrofies.”

Dit skep ook hoop, sê Le Roux. Veral te midde die ekonomiese uitdagings wat mense elke dag beleef en ʼn mens moedeloos laat.

“As ʼn groep en gemeenskap het ons gewys ons kan self ʼn verskil maak.”

Sy sê dit motiveer inwoners om nou ook volgende projekte aan te pak om die dorp se vooruitgang te bevorder.

Die bekende radiopersoonlikheid Johrné van Huyssteen woon al twee jaar op Clarens waar hy die Oos-Vrystaat-tak van RealNet-eiendomme bedryf.

Hy sê die feit dat die dorp nou sy eie kraglading bestuur, is beslis ʼn trekpleister vir voornemende kopers en een van die eerste goed wat hy met belangstellendes deel.

Volgens Van Huyssteen het eiendomme in Clarens boonop die afgelope paar jaar al gewilder onder jong, professionele mense geraak, wat van enige plek af kan werk. In die verlede was mense meer geneig om ʼn aftreeplek in Clarens te koop.

Hy sê die feit dat Clarens nie beurtkrag het nie, beteken natuurlik ook “ongelooflik baie” vir die toerismebedryf op die dorp, veral aangesien meer as 70% van huise in Clarens gastehuise is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.