Van OB tot LP: Mkhwebane ingesweer

Dis amptelik! Adv. Busisiwe Mkhwebane is ‘n lid van die EFF. (Foto: EFF/X)

Die afgedankte Openbare Beskermer (OB) adv. Busisiwe Mkhwebane is Vrydag as ’n EFF-parlementslid (LP) in die Nasionale Vergadering ingesweer.

Mkhwebane het Maandag aangekondig dat sy haar by dié party aangesluit het – die einste party wie se leier haar eens ʼn Gupta-marionet reg uit die Guptas se kombuis genoem het.

Dit is die eerste keer dat Mkhwebane aan ʼn politieke party behoort.

Virgil Gericke van die Plaaslike Besorgde Inwoners (PBI) van Pacaltsdorp in George is ook tydens die geleentheid as EFF-LP ingesweer.

Mkhwebane het later aan verslaggewers gesê sy gaan die proses waartydens sy in die parlement as OB verwyder is in die hof betwis.

“Ek is gereed vir hulle… Ek is hier en ek sal seker maak dat nie eens my grootste vyand deurgaan wat ek deurgemaak het nie. Daar is regverdigheid. Dit is ʼn grondwetlike staat en dit sal voorop staan.”

Maroela Media het vroeër berig Mkhwebane het verlede maand ʼn afdankingsbrief van pres. Cyril Ramaphosa ontvang nadat die meerderheid van die parlementslede gestem het dat sy uit haar amp verwyder moet word.

Altesame 318 parlementslede, onder wie van die ANC, DA, IVP, VF Plus, ACDP en NFP, het ten gunste van Mkhwebane se verwydering uit haar amp gestem. Altesame 43 parlementslede, onder wie LP’s van die EFF het daarteen gestem. Een LP het buite stemming gebly.

Die stemming volg nadat die komitee vir die artikel 194-ondersoek na Mkwhebane se geskiktheid om haar amp te beklee eindelik bevind het dat sy haar aan wangedrag skuldig gemaak het en onbevoeg is.

Mkhwebane vervang nou vir Thembi Portia Msane as EFF-LP nadat Msane as burgemeesterskomiteelid vir water, sanitasie en energie in Ekurhuleni aangestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.