Van slaggate tot skoonmaak; Vanrhynsdorpers help sélf

(Foto: Facebook/ Vanrhynsdorp Gemeenskapsforum)

Vanrhynsdorp het dalk baie probleme, maar ʼn gebrek aan bereidwilligheid onder inwoners om self iets daaraan te doen, is nie een daarvan nie.

Dié plattelandse dorpie in die Wes-Kaap was onlangs pal in die nuus, onder meer oor wateronderbrekings wat inwoners moedeloos gehad het. Maroela Media het vroeër berig dat woedende inwoners vroeër vanjaar na die Matzikama-munisipaliteit – wat die dorp bestuur – se kantoor opgeruk het om ʼn oplossing vir die voortslepende probleme te eis.

Volgens Roché Killian, ʼn inwoner en sakeman op die dorp, is die waterkrisis in Vanrhynsdorp maar net een van die vele uitdagings waarmee hulle daagliks te kampe het.

“Dit het tyd geword vir die hele gemeenskap om hande te vat en saam te werk. Dit help nie meer om ʼn wanfunksionele munisipaliteit te blameer nie.”

Killian woon al twee jaar op Vanrhynsdorp. Hy is ʼn gebore Kapenaar, maar wou hom nog altyd op die platteland vestig.

“Die eerste keer toe ek in Vanrhynsdorp inry, het ek nie gedink ek sal hier bly nie, maar ná vier dae hier het ek besef dat die lewensgehalte net soveel beter is. Die mense, die pragtige natuur; dit is nie ʼn gejaag na wind hier nie. Ek kan asem skep en vir die berge en blomme kyk,” vertel Killian.

“Baie Wes-Kaapse stedelinge verhuis na kleiner dorpies. Daarom dink ek dit is belangrik dat gemeenskappe begin saamstaan om ʼn wesenlike verskil te maak.”

Uitdagings op die dorp

Vanrhynsdorp het deur die jare soos baie ander plattelandse dorpe weens verstedeliking begin agteruitgaan. Hier is ʼn groot bevolking ouer inwoners en ʼn kleiner potensiële inkomstebron.

(Foto: Facebook/ Vanrhynsdorp Gemeenskapsforum)

“Dit is uitdagend. Die mense hier is nog gewoond aan ouer tegnologie; ons het eers twee maande gelede vesel-internetkabels gekry! Vir ʼn IT-tegnikus uit die stad was dit ʼn groot skok,” skerts Killian.

Buiten waterprobleme besorg kraglewering inwoners ook hoofbrekens.

“Die infrastruktuur van die kragnetwerk is verouderd en dringende bywerking is nodig. Dit blyk egter dat die provinsiale en nasionale regering nie die platteland as prioriteit sien nie. Dit word duidelik in hoe munisipaliteite op klein dorpies landwyd sukkel om finansieel te oorleef.

“Daar is verskriklik baie uitdagings en ons het besef dat ons met ʼn munisipaliteit sit wie se hande reeds vol is.”

Kellie de Villiers, nog ʼn sakeman op die dorp, sê die huidige raad het ʼn bankrot munisipaliteit geërf wat dit moeilik maak om probleme te pak.

Die inwoners het sedertdien hand in eie sak gesteek en doen wat hulle kan om die munispaliteit te ondersteun.

Nog ʼn inwoner, Rodney Lakay, sê hulle het as gemeenskap besef dat hulle die verandering moet wees wat hulle graag wil sien.

“Ons kan nie net kla oor dinge wat verkeerd gaan nie, ons moet self iets doen om ʼn verskil te maak.”

Volgens Lakay bly werkloosheid en armoede die dorp se grootste uitdaging.

Rodney Lakay (Foto: Facebook/ Vanrhynsdorp Gemeenskapsforum)

“Daar is baie uitdagings en baie frustrasies op Vanrhynsdorp, maar dit was eens ʼn dorp waarop sy mense regtig trots was en dit is wat dit wéér sal wees,” sê Killian.

Gemeenskap moet saamstaan

ʼn Paar bekommerde inwoners het dus koppe bymekaar gesit om self ʼn verskil te help maak.

“Ons het besef dat daar ʼn organisasie moet wees wat optree vir die gemeenskap en wie se fokus suiwer op die verbetering van die dorp en sy mense gerig is,” sê Killian.

“Ons het sewe leiers geïdentifiseer en ons tydens die stigtersvergadering as die Vanrhynsdorp Gemeenskapsforum (VGF) benoem.”

Killian verduidelik dat die munisipaliteit met sy beperkte hulpbronne bloot nie oral kan uitkom nie.

“Ons het gevoel dat ons meer hulpbronne vir die dorp en sy inwoners wil bied en die munisipaliteit wil ondersteun.”

Volgens Lakay is daar minstens twee organisasies wat ʼn verskil op die dorp begin maak: die Gemeenskapstraatkomitee en die Vanrhynsdorp Gemeenskapsforum.

(Foto: Facebook/ Vanrhynsdorp Gemeenskapsforum)

“Die polisie en ander vrywilligers is by die groepe betrokke. Ons kry ook ondersteuning van die boere in die omgewing en van die sakeondernemings op die dorp staan ons gereeld by met materiaal.”

De Villiers sê dat die netheid van die dorp veral prioriteit geniet.

“Ons sal nooit ophou met die mooimaak en skoonmaak van ons dorp nie.”

Verskeie opruimingsprojekte is reeds van stapel gestuur en die probleem met dwelmverkope in die gebied word met die hulp van die polisie gepak.

“Ons het saam met die gemeenskap van Maskamsig gewerk om ons dorp skoon te kry, almal het ingespring en saamgewerk.

“Ons het ook saam met die polisie begin saamwerk om sigbaarheid op die dorp te verhoog. Ons fokus is om probleemgebiede te teiken.

“Die Vanrhynsdorp Gemeenskapsforum bestaan nou maar eers drie maande, maar in die kort tyd het ons al baie vermag.

“Ons het gevoel ons wil deel wees van die oplossing en nie van die probleem nie. Ons fokus daarop om die verandering te wees.”

Die organisasie het met die hulp van die munisipaliteit reeds slaggate begin herstel.

“Ons het in Maart ʼn storm gehad wat riviere laat vloei het wat jare laas geloop het. Ons paaie is vol gate en die munisipaliteit het nie die hulpbronne, finansies of mannekrag om dit reg te maak nie.

(Foto: Facebook/ Vanrhynsdorp Gemeenskapsforum)

“Daarom het ons besluit om op Vryheidsdag die gate te pak.

“Hoewel daar beperkte hulpbronne was, het ons as gemeenskap saamgestaan en alles bymekaar geskraap om ons paaie reg te maak.”

De Villiers sê hulle poog om gereeld met die inwoners te kommunikeer sodat Vanrhynsdorp se mense meer betrokke by die projekte kan raak.

“Ek hoop en bid dat ons kan voortbou en ʼn daadwerklike verskil in ons mooi dorp kan maak,” sê Killian.

“Ek sien reeds ʼn verskil en as dit vir Vanrhynsdorp kan werk, kan dit vir enige klein dorpie moontlik wees.”

(Foto: Facebook/ Vanrhynsdorp Gemeenskapsforum)

(Foto: Facebook/ Vanrhynsdorp Gemeenskapsforum)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.