Vanrhynsdorp nou al dae lank sonder water

(Argieffoto: Unsplash)

Inwoners van Vanrhynsdorp in die Wes-Kaap is raadop oor wateronderbrekings in die gebied wat nou al byna ʼn week lank duur.

Woedende inwoners het Dinsdag na die Matzikama-munisipaliteit, wat die dorp bestuur, se kantoor opgeruk om ʼn oplossing vir die voortslepende krisis te eis.

Op sosialemediaplatforms braak inwoners gal oor die tekort aan water en die munisipaliteit se oënskynlike onvermoë om dit behoorlik te pak.

“Hoe koop jy badwater by die winkel?” het een moedelose inwoner gevra.

Gerald Seas, munisipale bestuurder van die Matzikama-munisipaliteit, het aan EWN gesê die owerheid se ondersoeke wys verskeie waterpype wat gebars het, is die oorsaak van die probleem. Dit sluit in een op Vanrhynsdorp, nog een op Vredendal en ʼn ander waterpyp op die lyn tussen Vredendal en Vanrhynsdorp.

Maroela Media het ʼn navraag aan die kantoor van die burgemeester en die kantoor van die munisipale bestuurder gerig en wag op terugvoer.

Intussen probeer inwoners self sien kom klaar, terwyl ander inspring om te help waar hulle kan.

Abraham Spies, ʼn inwoner van die dorp, is een van diegene wat probeer help. Spies het ʼn boodskap op Facebook geplaas waarin hy mense vra om hom te laat weet van bejaarde inwoners wat dalk sonder drinkwater gestrand is. Hy is bykans oorweldig deur die reaksie.

Spies het by navraag gesê hulle sit al ses dae lank sonder water en hy kon nie langer toekyk sonder om te probeer help nie.

“Ek kan nie sien hoe mense ly en niks daaraan probeer doen nie,” sê hy.

Spies het dus water op Vredendal, sowat 25 km van Vanrhynsdorp, gaan koop en dit na buurte op die dorp aangery waar hy dit gratis uitdeel aan diegene wat die grootste nood het.

“Ek het vandag al 150 bottels 5 liter-water vir die gemeenskap gaan uitdeel. Daar is ou mense wat in hul huise lê sonder ʼn druppel water om te drink. Dis verskriklik.

“Hier is ongelooflik baie mense wat hulp vra. As ons almal in die private sektor en in die gemeenskap hande vat, kan ons hierdie probleem uitsorteer.

“Dit is ʼn absolute krisis,” sê Spies.

Luidens Seas se verklaring is die twee gebarste pype op Vanrhynsdorp teen vanoggend herstel en het die pompe water tussen die twee dorpe gepomp.

Teen laatmiddag het inwoners op Vanrhynsdorp egter aan Maroela Media gesê dat hul krane steeds droog is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Christine ·

Kry Afriforum om die waterbetalings van die belastingbetalers weer terug te hou dmv inbetalings te laat doen na ‘n oudit firma, en die munisipaliteit dmv ‘n hofbevel opdrag te gee dat die waterprobleem reggemaak moet word. Ek dink dit was in Koster gedoen en binne ‘n paar dae was die probleem opgelos.

Tanniepetoors ·

Saluut Abraham Spies! Hoop jy en andere kry julle eens mooi dorpe se watertoevoer gou reg en onder beheer.

wim ·

Ja, bedank die ANC-lite en hulle wyksraadslid wat onlangs van die PA afgerokkel is

Pannies ·

Dis alles te danke aan n onbevoegde regering, munisipale bestuur en personeel wat aangestel word.
Die publiek kan eerder ophou belastings betaal en hul eie ding doen.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die raadslede en senior amptenare is seker êrens in Kaapstad besig met strategiese beplanning.

Lillian ·

Weereens geen onderhoud aan infrastruktuur, dan gebeur sulke dinge maar daar word vereis dat ons maandeliks ons munisipale rekeninge betaal.

blia ·

Julle sal tot in lengte van dae wag vir terugvoering vanaf die munisipale bestuurder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.