Van spaarvarkie tot e-handel: leer kinders só die ABC van geld

Elfjarige Carla help graag in haar ma se winkel. Dit help haar om sommer vroeg-vroeg sakebeginsels aan te leer. (Foto: Charlé Bester)

Kleingeld en kosbare kontantnote in die spaarvarkie en sakgeld in die hand.

Dit was dalk vantevore die beste manier om kinders oor die waarde van geld te leer, maar die opgang van elektroniese transaksies en selfs digitale geldeenhede het heelwat nuwe uitdagings geskep om kinders te leer presies wát geld is – en hoe om na jou finansies te kyk.

Tussendeur al hierdie uitdagings lê egter ook ʼn hele klomp geleenthede opgesluit.

Baie kinders word vandag groot in huise waar finansiële transaksies elektronies gedoen word en waar harde kontant so skaars soos hoendertande is.

Dié skuif skep ʼn dilemma vir ouers en opvoerders: hoe maak jy geld tasbaar en verstaanbaar as jy kwalik ooit ʼn noot of muntstuk in jou hand hou?

Voorbeelde trek

Selfs in ʼn digitale era word die belangrikste lesse steeds deur die optrede van ouers en versorgers geleer, sê Sarah Nicholson, bedryfsbestuurder van JustMoney, ʼn aanlyn platform wat Suid-Afrikaners help om beter geldkeuses te maak.

Dink só: dade wek, maar voorbeelde trek. En dieselfde geld vir dít wat jy jou kinders oor geld leer. Kinders leer deur die volwassenes om hulle dop te hou; deur self slim geldbestuursbesluite in die huishouding te neem, is reeds ʼn uitstekende wegspringplek om kinders oor goeie batebestuur te leer.

Betrek kinders al op ʼn vroeë ouderdom – en op ʼn gepaste vlak – by gesprekke oor die huishouding se besteding, die spaarplan vir duurder dinge (soos ʼn vakansie), en die aangaan van ʼn lening (om byvoorbeeld opknappingswerk aan die huis te doen).

“ʼn Belangrike les is om kinders die verskil tussen ‘noodsaaklikhede’, items soos kos en klere, en ‘lekker-om-te-hê-items’, soos speelgoed en bederfies, te leer,” sê Nicholson.

En as jy eers die basiese boustene gelê het, bied die digitale wêreld heelwat prettige maniere om kinders deur die gebruik van interaktiewe speletjies, apps en aanlyn platforms oor geld te leer. Dit laat hulle toe om praktiese ervaring op te doen, kritiese denkvaardighede aan te leer, en ʼn sterk grondslag vir finansiële verantwoordelikheid te lê.

Só maak hierdie gesin

Susan Lombaard, ma van tieners Isabel en Josua, sê hul gesin het sommer vroeg al saamgewerk om die jonges behoorlike batebestuur te leer.

Toe die kinders heelwat kleiner was, het elkeen drie glasbottels met etikette daarop gekry: spandeergeld, Jesusgeld en spaargeld. Die twee het elke maand R60 in los note gekry. R10 in die Jesus-botteltjie, R20 in die spaarbotteltjie en R30 in die spandeerbotteltjie. Die Jesus-botteltjie kon hulle opdeel in kleiner geld en dan elke Sondag iets kerk toe neem (of een keer ʼn maand, maar alles moet in dieselfde maand uitgegee word). Vir die spaarbotteltjie moet hulle iets identifiseer waarvoor hulle spaar. Ekstra geldjies (soos dié van die tandmuis of ʼn werkie) kon in die bottel van hul keuse gegooi word. “Ek was beïndruk met hoeveel keer ʼn deel daarvan in die Jesus-botteltjie gegaan het! Dit leer hulle om ook self te kies wat hul waardes met betrekking tot geld is,” sê sy.

Namate die kinders ouer geword het, het die geld ook meer geword.

“Ons het nie daarin geglo dat kinders betaal word vir alledaagse werkies in die huis nie. Mens doen werkies omdat jy deel is van die gesin. Jy kry ook nie geld as ʼn beloning nie; jy kry dit omdat ons lief is vir jou en jy deel is van die gesin. Wanneer iemand egter graag ʼn ekstra geldjie wil verdien vir iets spesifieks, of voel hulle kom nie uit met hul snoepiegeld nie, kan hulle ʼn ekstra werkie doen vir geld,” sê Susan.

“Ek het geleer mens moenie te streng wees nie, bloot omdat dit vir die ouers moeilik raak om toe te pas, en dan los mens dit naderhand!”

Dit is ook belangrik dat hulle met kontant werk, anders verstaan hulle regtig nie wat geld is en hoe dit meer en minder word nie, sê hierdie ma.

“Dit is ook belangrik dat mens vroeg vir hulle leer alles wat ons het, ook ons geld, is eintlik God sʼn en dat ons dit met verantwoordelikheid en insig moet bestee omdat ons net rentmeesters is van wat Hy aan ons toevertrou.”

Susan sê haar kinders het hul eie bankrekeninge en hulle is al oud genoeg om elkeen met ʼn sakeonderneming van een of ander aard te begin woeker. “Dit hoef nie heeltyd te wees nie, maar hulle albei pak nou en dan iets aan waarmee hulle ekstra geld verdien as hulle byvoorbeeld saam met ʼn vriend weggaan met vakansie en ekstra geld wil saamvat.”

Haar seun, Josua (14), verkoop hout in die buurt (hy het self ʼn verskaffer gesoek wat dit teen ʼn goeie prys verskaf) en lewer dit met sy fiets af. Dogter Isabel (17) maak ʼn billike paar rand met haar bakwerk. “Mense ken haar al en bestel by haar sonder dat sy adverteer, maar dis op die oomblik bietjie moeilik om te doen saam met haar matriekwerk.”

Susan hou saam met hulle ʼn spreitabel by vir hul ondernemings, sodat hulle ʼn begrip het van inkomste, uitgawes en wins.

“Josua het al lelik vingers verbrand met twee houtfakture wat hy nooit betaal het nie en al die geld uit sy verkope op visvangtoerusting spandeer het. Hy moes toe maar vir ons kom vra vir ʼn lening, wat hy met rente – die rente is karwas – moet terugbetaal.

“Dis belangrik dat hulle hierdie lesse ook leer,” sê Susan.

Leer geld speel-speel bestuur

Nicholson sê ook hierdie geldbestuursvaardighede help kinders om die moderne finansiële landskap verantwoordelik te navigeer.

“Moedig vrae aan en skep ʼn oop ruimte waar kinders gemaklik voel om geldsake te bespreek. Gee duidelike verduidelikings wat by hul ouderdom en begrip pas,” is haar raad aan ouers.

Daar is ook heelwat hulpmiddels beskikbaar om hierdie konsepte te help vaslê. Die Afrikaanse e-naslaangids, Weet, bevat nuttige inligting oor die geskiedenis van geld, hoe geld dalk in die toekoms gaan lyk en artikels oor sakelui wat hul geld slim bestuur het.

Hier is nog wenke:

  • Maak gebruik van ouderdomspesifieke aanlyn kursusse en werksessies oor geld. Sommige behels die gebruik van handpoppe, musiek of storiekarakters om dit pret te hou.
  • Stel kinders bekend aan aanlyn bankdienste. Verduidelik vir hulle hoe betalings, oorplasings en ander transaksies deur ʼn finansiële instelling se webwerf of app werk.
  • Help jou kind om boek te hou van sy uitgawes. Gebruike eenvoudige apps of spreitabelle. Dit help hulle begryp waar hul geld heengaan en wat in hul neseiertjie oorbly.
  • Moedig hulle aan om te spaar deur virtuele spaarvarkies, geld-termometers of grafieke te gebruik. Só kan hulle sien hoe hul geld “groei”.
  • Verduidelik dat daar ook koste verbonde aan aanlyn transaksies is. Dit sluit in diensgeld en rente.
  • Wys jou kind hoe om aanlyn rekeninge te monitor sodat hulle sommer vinnig kan sien wanneer ʼn ongematigde transaksie plaasvind.
  • Help kinders om te verstaan wat “waarde vir geld” beteken. Hulle kan byvoorbeeld help soek vir die beste gehalte teen die beste prys.
  • Maak hulle bewus van aanlyn veiligheid, kuberbedrog en slenters om hulle te probeer oorreed om byvoorbeeld ʼn wagwoord of ander persoonlike inligting te verklap.
  • Moedig entrepreneursvaardighede aan en wys kinders hoe om digitale maniere te gebruik om lewe in hul idees te blaas en ʼn inkomste te genereer.
  • Verduidelik wat ʼn belegging is deur programme hiervoor te gebruik wat spesifiek vir kinders geskep is. Dit sluit in speletjies om hulle te leer om aandele te koop en te verkoop. Hulle kan ook die aandeelprys van bekende handelsmerke soos Disney of Nike dophou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.