
Die mishandelde blou apie (Foto: NDBV webblad)
Waarskuwing: Foto’s kan moontlik sensitiewe kykers ontstel.
Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NDBV) verwelkom die skuldigbevinding van ʼn veearts wat ʼn apie agt jaar gelede gruwelik mishandel het.
Dr. Elfreda Alberts is Woensdag in die Nigel-landdroshof skuldig bevind op aanklagte van dieremishandeling, verwaarlosing, versuim om medikasie toe te dien, dwarsboming van die gereg sowel as die onwettige besit van ’n inheemse wilde dier.
Die NDBV is sowat agt jaar gelede daarvan bewus gemaak dat Alberts ʼn blouaapwyfie, wat slegs een ledemaat het, aanhou. Haar ander drie ledemate was geamputeer en sy was glo in erge pyn.
Met die NDBV-inspekteurs se aankoms by die veearts se huis, is hulle eers toegang geweier. Die polisie is later ontbied om in te gryp. “Toe die inspekteurs uiteindelik toegang tot die huis verkry, wou Alberts aanvanklik nie haar samewerking gee nie en hulle moes haar eers met inhegtenisneming dreig,” het die NDBV gesê.
Die apie is in ʼn hok in Alberts se slaapkamer gevind. Die apie se twee agterbene en een voorarm is geamputeer. Die apie het beweeg deur haarself met haar oorblywende arm rond te sleep. Sy het ook ʼn diep sny op haar buik gehad.
Die apie is verwyder en na ʼn veearts geneem vir ondersoek. Die veearts het besluit dat die apie uitgesit moet word om haar lyding te beëindig. Haar lyk is vir ’n nadoodse ondersoek gestuur.
Die NDBV het die voorval aan die Suid-Afrikaanse Raad vir Veeartseny gerapporteer wat aanbeveel het dat hulle vir die uitslag van die saak wag voordat hulle die veearts krimineel aankla.
Meg Wilson, woordvoerder van die NDBV, sê dit het bykans agt jaar geduur voordat geregtigheid kon geskied. “Die NDBV sal nooit ophou om geregtigheid te soek nie, maak nie saak hoe lank die regstelsel neem nie. Elke dier en elke saak is vir ons van kardinale belang, ” het Wilson gesê.
Alberts word 18 Maart in die Nigel-landdroshof gevonnis.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
19 Kommentare
Mag hy nooit weer met diere werk nie
Baie ontstellend.
Laat my bloed sommer kook!
Geliewe kennis te neem dat dit ‘n vrou is en nie ‘n man nie! Skokkend!
Mag ek nooit uitvind wie dit is nie…..