‘Veedief’ dood ná mense reg in eie hande neem  

(Argieffoto)

ʼn Vermeende veedief is so erg aangerand dat hy aan sy beserings beswyk het terwyl nog een in ʼn ernstige toestand in ʼn hospitaal opgeneem is.

Lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder, het gesê die voorval het Vrydag in Reivilo in Noordwes plaasgevind.

“Volgens inligting tot ons beskikking het plaaseienaars ʼn wenk van lede van die gemeenskap ontvang oor verdagte mense wat vee met ʼn Nissan-bakkie na die Dithakong-nedersetting in die Noord-Kaap vervoer.” Die vee is glo op ʼn plaas in die omgewing gesteel.

ʼn Groep het die verdagtes se bakkie voorgekeer en twee van die vier verdagtes vasgetrek. “Daar is toe glo reg in eie hande geneem en die twee verdagtes is met knopkieries, ysterstawe en hamers aangerand.

“Een van die verdagtes is op die toneel dood terwyl die ander een met ernstige beserings na die Vryburg-hospitaal geneem is.”

Daar word beweer dat die groep ook die verdagtes se bakkie aan die brand gesteek het. Die ander twee verdagtes wat daarin kon slaag om te vlug, word steeds gesoek.

Die polisie ondersoek die voorval.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, het ʼn beroep op die publiek gedoen om nie reg in eie hande te neem nie en eerder saam met die polisie te werk om misdaad te bestry.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.