Veelsydige Melissa praat oor uitdagings, drome in bedryf

Melissa Myburgh. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Haar uitdagende hoofrol in Jaco Bouwer se bekroonde verhoogstuk, Die vegetariër, was vanjaar tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op almal se lippe én sy het reeds ʼn rits suksesvolle televisiereekse soos Dinge van ʼn kind en Trompoppie agter haar naam.

Tog is dit vir die 25-jarige aktrise Melissa Myburgh soms steeds moeilik om nie te dink sy is ʼn groentjie in die bedryf nie.

“Elke keer as ek ʼn projek afgehandel het, dan dink ek: Goed, nóú kan ek seker myself as ʼn regte aktrise beskou. Dan pak ek ʼn volgende een aan en word vinnig net weer ‘klein ou Melissa’ in my kop,” vertel die aktrise met ʼn skaam lag aan Maroela Media.

Ma en pa, wat onderskeidelik ʼn rekenmeester en chirurg is, het aanvanklik wenkbroue gelig toe ʼn jong Melissa ʼn loopbaan in die kunste wou aandurf. Toe sy ʼn beurs losslaan en haar dramastudie aan die Universiteit Stellenbosch met erns aanpak, het dinge egter verander.

“O nee kyk, nou is my pa breëbors as iemand by die hospitaal vir hom oor sy aktrisedogter uitvra,” skerts sy.

Sy het aanvanklik met televisierolle in Lui maar op Belinda en Kompleks op die toneel verskyn, maar die verhoog is waar haar liefde vir die bedryf behoorlik gekweek is.

Haar rol in Die vegetariër, wat handel oor ʼn vrou wat op ʼn enigmatiese reis gaan nadat sy besluit om op te hou vleis eet, het fisiek en geestelik baie van die jong aktrise geverg.

“Dis een van daardie stukke wat jy aan jou lyf voel, want sy word aangetas en rondgeruk. Die analitiese kant van my brein het my nog altyd gehelp om karakters te ontleed, maar vir die eerste keer het daardie aanslag eenvoudig nie gewerk nie – want hierdie vrou maak net nie sin nie. Jaco het my aangemoedig om op te hou dink en meer te doen, om deur my liggaam eerder as my kop gelei te word.”

Tinarie van Wyk Loots en Melissa op die verhoog in ‘Die vegetariër’. (Foto: KKNK)

Die rol het ook kwesbaarheid geëis, veral met meer ontstellende tonele.

“Met só ʼn stuk sê mens vir die gehoor; ek is ontbloot voor jou, jy gaan my nou vir ʼn uur of twee óf aanvaar en metafories omarm óf my verwerp, maar ek spring nou in jou arms.

“Dis deel van my liefde-haat-verhouding met toneelspel. Wanneer jy daardie konneksie met 50 of 100 vreemdeling kan maak, is dit onbeskryflik. Natuurlik kan daardie selfde mense jou verwerp, wat ʼn goeie lewensles inhou én jou vel word dikker.”

Sy beskryf egter die gevoel wat teater vir haar as aktrise bied as “byna verslawend”.

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Ek het ook al gehoor iemand sê mens ervaar op die verhoog amper dieselfde tipe adrenalien as wat jy in ʼn motorongeluk sou voel. Ek weet nie of dit waar is nie, maar dit voel beslis so.”

Die bekroonde aktrise Tinarie van Wyk Loots, wat as regisseur saam met Melissa in Kompleks en Dinge van ʼn kind gewerk het, is saam met haar in Die vegetariër te sien.

“Ek het myself net as ʼn vaal meisie van Parow beskou, maar Tinarie het keer op keer iets in my raakgesien wat ek self nie kon nie. Ek draai altyd na haar toe vir raad of as dinge swaar raak, want sy bou mens op en deel haar kennis. Álmal het ʼn Tinarie in hul lewe nodig.”

Dinge van ʼn kind haar droomrol

Melissa se kuiltjies verdiep soos sy glimlag met die noem van die televisieverwerking van Marita van der Vyver se Dinge van ʼn kind – waarin sy die rol van Mart vertolk het.

Sy het as 13-jarige vir die eerste keer kennis met die boek gemaak en het tóé reeds gevoel asof die karakter spesiaal vir haar geskryf is. Op hoërskool wou sy selfs graag prosa uit die boek doen.

“My dramaonderwyser het gesê ‘dis nie die regte prosa vir jou nie, jy is nie ʼn Mart nie’,” lag sy.

ʼn Jaar nadat sy Cintaine Schutte in die verhoogverwerking daarvan gesien het, het Melissa haar oudisie vir die televisieweergawe afgelê. Om uiteindelik die rol los te slaan was gevolglik vir haar ʼn “vollesirkel-oomblik”.

“Dit het vir my so baie gesimboliseer. Dit het alles gebeur in ʼn tyd waar daar nog baie ‘nee’s’ was en ek baie betwyfeling moes afweer. Om uiteindelik te kon besef, maar al daardie mense was verkeerd – ek ís Mart, ek kán Mart speel – het meer beteken as wat mense sal verstaan.”

Om daarna saam met skrywer en regisseur Etienne Fourie in Trompoppie te werk, was ʼn kersie op die koek. Sy debuutprent Die windpomp was ʼn gunsteling in die Myburgh-huis.

“My jonger sussie het heeltemal uitgefreak toe ek haar vertel dat ek saam met hom gaan werk, want ons was mal oor Die windpomp. Nou sien ek hom as ʼn goeie vriend, hoe mal is dit nie?”

In Trompoppie vertolk sy die rol van Luna, wat in ʼn hoogs aangeskrewe skool beland waar moorde op trompoppies gepleeg word. Bekendes soos Frank Opperman, Armand Aucamp en Marion Holm is ook daarin te sien.

“Dit was heeltemal die teenoorgestelde van Dinge van ʼn kind met die absurditeit, toertjies en bloed wat spat. Dit was net pure pret en ek het soveel nuwe konneksies gemaak.”

Melissa speel Luna in ‘Trompoppie’. (Foto: Verskaf/Showmax).

Roem nie haar dryfkrag nie

Benewens haar werk as aktrise, sê Melissa sy wil haar talente as skrywer verder slyp.

Sy het ʼn reeks verhoogstukke, ʼn draaiboek en ʼn Silwerskermfees-rolprent, Hier/Daar onder haar belt. Daarbenewens het sy bygedra tot episodes vir die gewaagde Showmax-reeks Wyfie.

ʼn Meer geheime skryftalent van haar lê by musiek.

“Ja, ek skep musiek en neem goedjies op,” sê sy en wys na haar selfoon.

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“As iemand my vir iets sou nader, sal ek dit beslis doen, maar dit voel nie asof die sterre nou al daarvoor belyn is nie. So, daar is liedjies en drome, maar nog nie al die kennis en vermoë om dit nou dadelik ʼn werklikheid te maak nie.”

Haar groot fokus lê tans by rolprente.

“Sodra ek te gemaklik raak, wil ek myself dadelik met iets nuuts uitdaag. Ek sal graag in ʼn langer rolprent wil speel en werk nou aan ʼn draaiboek vir een wat eintlik homself skryf,” terg sy.

Ondanks haar sukses glo die nederig aktrise daarin om altyd perspektief te behou. Vir sosialemedia-kritici, politiek en skinderpraatjies het sy ook nie tyd of krag nie.

“Mens moet altyd onthou dat jy nie meer belangrik is omdat jy goed op die televisie sê vir ʼn lewe nie. Natuurlik neem ek nie weg van die kragtige platform wat die kunste het om kritiek te lewer en denke te verander nie, maar ek red nie lewens soos my pa nie. Ek kan hulle wel help verryk.”

Sy glo mens moet ook soms verloor ten einde te kan wen.

“Daar gaan altyd mense wees wat jou probeer afskrik en aftrek. Bly gefokus op jou werk, nie die politiek daaragter nie. Sny alles andersins uit en omring jouself met die regte mense. Die mense wat agter jou rug praat, is dan mos waar hulle hoort, agter jou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.