Veelsydige spekboom help dorre aarde herleef

André Britz van Jobs4Carbon. (Foto: GIANLUIGI GUERCIA / AFP)

André Britz stop sy bakkie langs ʼn klipperige bergpaadjie om die bewaringseienskappe van die spekboombos te verduidelik. Die 62-jarige Britz is ʼn spekboomkenner en gesels geesdriftig oor dié veelsydige struik.

Dít is ʼn soort vetplant met ʼn dikkerige rooi stam en immergroen blare, asook ʼn amperse spons wat koolstofdioksied uit die atmosfeer opsuig.

“Jy kan die verskil tussen geërodeerde grond en ongerepte spekboomveld sien,” verduidelik Britz en beduie na die verskil tussen die lowergroen heuwel en die dorre vallei.

Die plant het eens die droë landskap van die Klein-Karoo in die Wes-Kaap oorheers waar dit die grond teen die skroeiende son help beskerm het. Jare lange oorbeweiding en wanbestuur het egter sy tol op spekbome geëis.

Britz sê nie almal besef die waarde van die boompies nie.

“Spekbome is van die min plante wat bedags en saans koolstofsekwestrasie doen,” sê hy. En boonop kom dit natuurlik in dié geweste voor.

ʼn Dekade gelede het Britz die organisasie Jobs4Carbon op die been gebring, ʼn organisasie wat hom beywer vir die herplant van spekbome in ʼn gebied waar ʼn jare lange droogte boerderye op hul knieë gedwing het.

(‘n Oorsig van plase en heuwels in Van Wyksdorp. Foto: GIANLUIGI GUERCIA / AFP)

Hy is vasbeslote om dié eens droogtegeteisterde gebied weer vol lowergroenblare te sien. En om hierdie doelwit te help bereik, het Jobs4Carbon oor die afgelope twee jaar nagenoeg 700 ha onder spekbome toegeplant.

“Spekbome gee nuwe lewe aan die natuur,” sê spanleier Jan Cloete.

En vir Alastair Potts, ʼn plantkundige, het die nederige spekboom weer ʼn ander betekenis.

Dit “skep ʼn woudagtige mikro-omgewing”, amper soos ʼn “tapyt” van blare wat water, stof, voedingstowwe en koolstof vasvang.

Koolstof word in groot hoeveelhede geabsorbeer danksy die vetplant se vermoë om tussen twee soorte fotosintese te wissel. In warm, droë weer het spekbome die vermoë om snags koolstofdioksied in die vorm van appelsuur te stoor.

Bedags sluit die huidmondjies om waterverlies te verminder en word die nag se voorraad vir fotosintese gebruik – ʼn reusehupstoot vir die plant se koolstofsekwestrasievermoë.

Effe oordrewe bewerings dat die spekboom dieselfde koolstofhoeveelhede as die Amasone-reënwoude opneem, is as onwaar bewys, maar voorstanders van die boompies sê die plante bring veel meer as sy kant wanneer dit toegelaat word om in ʼn natuurlike omgewing te floreer.

Jobs4Carbon wil veel meer van die bome plant en hoop om die projek te help finansier deur koolstofkrediete aan maatskappye te verkoop om hul koolstofvoetspoor teen te werk.

Om dit lewensvatbaar te maak, moet wetenskaplikes eers vasstel presies hoeveel koolstof die klein boompies opneem.

Potts is vol hoop en sê anders as met ander boomplantprojekte, wat gekritiseer word omdat dit monokulture in ongeskikte ekostelsels vestig, is dit nie die geval met spekbome nie.

(Spanne van Jobs4Carbon hard aan die werk. Foto: GIANLUIGI GUERCIA / AFP)

“Koolstofboerdery en spekbome is die perfekte mengsel.”

Met die nodige finansiering van internasionale stigtings en private maatskappye, beoog Jobs4Carbon om spekbome oor 13 000 ha in die streek te plant.

Die organisasie doen dit tans gratis as grondeienaars instem om die stuk vir minstens 15 jaar braak te laat lê.

In die binnehof van ʼn kerk waarvan die perseel gebruik word om die plante voor te berei, staan 15 000 klein plantjies, reg om in die dorre grond geplant te word. Want, soos hul voorsate geglo het: “As jy omsien na die veld, sal die veld na jou omsien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marieta ·

God het elke gebied perfek gemaak om te oorleef. Die mens het gekom en dit opgedinges. Oom Andre, dankie dat Oom terug sit, daar waar dit behoort! Ek is seker dat elke boer wat aan boord klim, die vrugte gaan pluk.

Danie ·

Kom ons daag al die mense uit. As jy n spekboom het of n vriend of n familie lid het een, sny net een stiggie af en gaan plant hom. As ons dit doen maak ons een groot verskil.

Duck ·

Spekboom bied ‘n wye reeks gesondheid’s voordele – kyk na die immuniteit systeem, antioksidante, anti- inflimasie, energy booster…ens. Ek eet sommer so ‘n blaar of twee as ek daar verby stap in my tuin

Harry ·

Ek het n paar verskillende variteite. n Grootblaar, n groen en geel blaar, n kruiper soos n grondbedekker en die gewone een. Ek eet ook sommer n paar blaarjies as ek in die tuin loop. By Groot Constantia wyne het hulle van die plantjies op die tafels. Ek en my vrou het aan die blare gepeusel terwyl ons gewag het om bedien te word. Tot baie mense se verbasing natuurlik.

Michael ·

Ek stem saam met Danie,dit is vreeslik maklik om n spekboom te plant.

Goldy ·

Eenvoudige en doeltreffende oplossing tot koolstofprobleem, goeie geleentheid vir maatskappye en regerings en wêreldorganisasies om te wys of hulle werklik klimaatverandering wil aanspreek, en of hulle dit net as n verskoning gebruik om belasting en wette eeger te maak om in hulle maats se belang en teen die gewone mense op te tree. Hulle skuil graag agter komolekse instrumente, hou nie van eenvoudige logiese oplossings nie want dit maak nie genoeg skuiwergate vir geldgryp nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.