Veiligheid op ʼn ongelukstoneel: ʼn Paramedikus se storie

Foto verskaf deur ER24

’n ER24-paramedikus, Christiaan du Toit, is gereed om weer te begin werk nadat hy verlede September ernstig beseer is toe ’n voertuig hom op ’n ongelukstoneel getref het.

Terwyl die paramedici van die ER24 se Secunda-afdeling die beseerdes op ’n ongelukstoneel behandel het, het ’n verbygaande motoris op die toneel afgejaag en veroorsaak dat een van die nooddiensvoertuie vir Du Toit en twee ander paramedici tref. Du Toit het bloeding op die brein gehad asook twee rugwerwels gekraak en ses ribbes gebreek.

Madreline Meintjies, ’n medeparamedikus en Du Toit se beste vriendin, onthou die aand: “Ons Hoëveld-ER24-paramedici het een Saterdagaand op ’n botsing tussen ’n bakkie en ’n minibus op die R546 gereageer. Ons was besig om twee beseerdes te behandel wat geringe beserings opgedoen het. ’n Sekuriteitsmaatskappy se voertuig wat ons op die toneel uitgehelp het, was agter die ambulans teen ’n sekere hoek geparkeer. ’n Aankomende voertuig het in die rigting van die toneel gejaag en geen poging aangewend om te stop nie. Dié voertuig het eers teen die sekuriteitsmaatskappy se voertuig gebots en toe teen die ambulans wat ons toe getref het.

“Ek was in so ’n skoktoestand dat ek nie geweet het of Christiaan net beseer of dood is nie,” vertel Meintjies.

Meintjies het haar enkel en lae rug beseer en Du Toit is in ’n kritieke toestand hospitaal toe gehaas.

Du Toit kan niks van die aand se gebeure onthou nie, slegs dat hy die volgende oggend in die hospitaal wakker geword het. “Toe ek in die hospitaal wakker geword het, het ek gedink ek lê in my eie bed ná my aandskof.”

Hy het een maand in die hospitaal gelê en nog ’n maand in ’n rehabilitasiefasiliteit deurgebring.

Du Toit sterk tot vandag toe nog by die huis aan en hoop om so gou moontlik weer te kan begin werk.

Hoewel dit deel is van paramedici se werk om so spoedig moontlik op ’n primêre ongeluk te reageer, loop hulle altyd ’n hoë risiko om in ’n sekondêre botsing betrokke te raak. In die aande is dié risiko nog hoër.

Werner Vermaak, ER24 se kommunikasiebestuurder, wat ook al ’n slagoffer van ’n sekondêre botsing was, verduidelik dat sekondêre botsings plaasvind omdat padgebruikers waarskuwingstekens van ’n aankomende ongeluk ignoreer óf hul aandag afgelei word.

“Ons het talle voorvalle gesien waar padgebruikers teen die agterkant van ander voertuie bots,” sê Vermaak.

(Foto: ER24)

Dié wat eerste op ’n ongeluk reageer, sal gewoonlik op ’n sekere manier vir hul eie veiligheid parkeer en tweedens as ’n strategie om ander padgebruikers van die ongeluk te waarsku.

“Die veiligheid van die nooddienste by ’n ongelukstoneel is van sleutelbelang. Die mediese personeel maak staat op dienste soos verkeers-, polisie- en brandweerdienste. Die ambulanspersoneel het te alle tye hul eie basiese veiligheidstoerusting in die ambulans tot hul beskikking. Die ambulans word, waar moontlik, teen ’n sekere hoek geparkeer en padkegels word so ver moontlik agter die ambulans geplaas om die baan af te sper om sodoende aankomende motoriste te waarsku,” sê Vermaak.

Rhett Davis, ook van ER24, verduidelik waarom dit noodsaaklik is om sigbaarheid op die toneel te maksimeer: “Hoë sigbaarheid kan nie genoeg beklemtoon word nie. Ons paramedici moet te alle tye weerkaatsende baadjies aanhê en die nooddiensvoertuig se noodwaarskuwingsligte moet dag of nag op ’n toneel aangeskakel wees. Ons personeel se veiligheid is net so belangrik soos dié van die beseerdes.”

Hoewel daar spesifieke maatreëls ingestel moet word om die ongelukstoneel te beveilig (soos dit op daardie spesifieke nag gebeur het), bly die risiko steeds hoog.

Du Toit vertel hoe hy altyd sy bes doen met elke skof, al is dit hoe hoërisikowerk.

“Ek mis my werk. Ek voel tans nutteloos omdat ek nog nie kan teruggaan werk toe nie. Ek probeer myself besig hou deur byvoorbeeld boeke te lees,” sê Du Toit.

“Hoewel ek dikwels vir hom gaan kuier, mis ek dit om saam met hom te werk. Ek sien uit om terug te gaan werk toe,” sê Meiring.

Wenke: Wat om te doen wanneer jy ’n ongelukstoneel nader:

  • Indien jy enige ligte in die verte sien flikker, verminder versigtig jou spoed.
  • Wees versigtig wanneer jy padkegels op die toneel uitpak.
  • Wees veral versigtig wanneer jy ’n ongelukstoneel nader.
  • Moet nooit onder die invloed van drank of dwelms bestuur nie.
  • Moet nooit bestuur wanneer jy moeg is nie.
  • Hou altyd ’n veilige volgafstand.
  • Moenie net by ’n ongelukstoneel stilhou uit nuuskierigheid nie.
  • Luister na die verkeersverslae op die radiostasies in jou gebied.

Lees ook Maroela se berig Raad: Hoe gemaak by ʼn motorongelukstoneel? waar ER24-woorvoerder, Russel Meiring, ʼn paar wenke gee van wat om te doen op ʼn ongelukstoneel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hans Richardt ·

Mense ry gevaarlik en dom. Baie gesien op snelweg wat ry sonder ligte. Dalk sien hul pad goed, maar dis gevaarlik vir ander padgebruikers wat jou nie sien nie.
Ongelukke op snelweg is dikwels lankal opgeklaar, dan ry die agies nie stadig om te gaap oor toneel.

Worsie ·

Nee nee, al is die ongeluk op die hoofweg aan die ANDER kant, stop dood en staar terwyl jy duisende agter jou ophou..

Andreas ·

En dan kom ‘n taxi volspoed aan jou linkerkant op die skouer van die pad verbygejaag.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.