Veiligheid opgeskerp ná nog ʼn rooftog by Pta-sentrum

The Grove Mall. Foto: Facebook

The Grove Mall in die ooste van Pretoria gaan bykomende veiligheidsmaatreëls instel nadat dié sentrum Woensdag vir die tweede keer in minder as ʼn week beroof is.

Kapt. Jan Sepato, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn winkel wat elektroniese toerusting verkoop, is Woensdag deur vyf verdagtes beroof. Volgens Sepato het die een verdagte hom as ʼn koerier voorgedoen. Die veiligheidswag het vir hom oopgemaak waarna hy en sy makkers die winkel binnegestorm het.

“Die veiligheidswag en ʼn bestuurder is met vuurwapens aangehou en die verdagtes het gevlug met ongeveer 40 skootrekenaars wat hulle in ʼn duvet toegedraai het. Geen skote is afgevuur tydens die voorval nie, maar die veiligheidswag en bestuurder is aangerand.”

Volgens Sepato het die verdagtes na bewering met ʼn wit Isuzu-enkelkajuitbakkie met ʼn kap van die toneel gevlug.

Die voorval volg nadat ʼn juwelierswinkel Sondag by dié sentrum beroof is. Vier verdagtes het glo daarna met ʼn VW Golf GTi van die toneel gevlug.

Monique Harmse, bemarkingsbestuurder van The Grove Mall, het gesê die bestuur van die sentrum gee as topprioriteit aandag aan enige voorvalle aangesien die veiligheid van klante en huurders van sleutelbelang is.

“ʼn Aantal bykomende veiligheidsmaatreëls is in dié verband ingestel en ʼn hoëvlakvergadering met die Suid-Afrikaanse Polisiediens belê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Linda Gouws ·

Hoekom moet daar eers rooftogte of insidente plaasvind? Sekuriteit behoort top prioriteit van die begin af wees.

Nettie ·

Uit persoonlike ondervinding (ek werk by ‘n winkelsentrum) weet ek dat die sekuriteitswagte se “kwaliteit” en kaliber baie swak is. Meeste kan nie ordentlike Engels praat nie, laat staan nog Afrikaans verstaan. En die meeste staan die hele dag rond en is besig met hul selfone of om met mekaar oor die radio te staan en grap.

Cherokee ·

Nettie (en ander), ek besef hierdie is totaal van die tema af maar tog skakel dit in by wat jy hier vertel.
Vanmiddag om sowat 16:00 skakel ek Vodacom Kliëntediens om ‘n netwerk-probleem op te los. Druk die nommers soos nodig en no 4 om in Afrikaans bedien te word. ‘n Swart dame antwoord in Engels. Toe ek vra waarom sy antwoord want die sisteem het diens in Afrikaans beloof, het sy geantwoord en gesê dat daar geen Afrikaanssprekendes werk nie. Hulle belowe dus fasiliteite op hul skakelbord wat hulle nie kan lewer nie.

Die daaropvolgende diens was van werklik hoogstaande gehalte en ek het haar gekomplimenteer daarna, maar ek noem dit net omdat diè tipe dinge gewoonlik in die kiem gesmoor word.

wraggies ·

Grove was al verskeie kere voorheen beroof, as ek reg onthou net ‘n paar weke na dit oopgemaak het was dit vir die eerste keer al beroof, wat is in die tussentyd (dws voor hierdie nuuutste insidente) gedoen wat sekuriteit aanbetref?

J ·

Hijacking gebeur ook gereëld by The Grove. Daai sentrum is al n paar keer deur gewapende roof. Inbrake in die voertuie in die parkeer area. Ek gaan glad nie meer The Grove toe nie.

Bok Bok ·

Dankie vir die inligting nou weet ek watter mall om te vermy.
Ek kom nie gereeld in die Ooste van PRETORIA nie maar sal beslis Grove mall vermy!!!
Mens will darem gerus wees as jy inkopies doen!!!

Ben ·

Jy kan nerens meer gaan nie. Net hoop en bid jou kar staan nog daar as jy terugkom na shopping om huis toe te kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.