WAARSKUWING: Die foto’s onderaan die berig kan sensitiewe kykers ontstel. ʼn Veiligheidswag het Dinsdagmiddag omstreeks 14:00 na sy dood gespring by Menlyn-winkelsentrum in Pretoria, Gauteng.
“Dit is nie duidelik van watter vloer die man gespring het nie,” het kapt. Colette Weilbach, woordvoerder van die Brooklyn-polisiestasie, aan Maroela Media gesê. “Geen vuilspel word in hierdie stadium vermoed nie.”
Weilbach het bevestig die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek. Sy kon nie enige verdere besonderhede bekend maak nie.
Andrea de Wit, bemarkingsbestuurder by Menlyn-winkelsentrum, het Dinsdag aan Maroela Media bevestig dat ʼn lid van die veiligheidspan glo selfmoord gepleeg het. “Die polisie en nooddienste is op die toneel en sal die saak verder hanteer,” het De Wit gesê. Sy kon ook nie verdere besonderhede bekend maak nie.
Tanica Avril Fourie, een van Maroela Media se lesers, was ʼn ooggetuie en het gesê die voorval het by die Food Court in die sentrum plaasgevind. “Die slag was só hard toe hy die grond tref, dat mense paniekerig begin skree het, ‘Iemand skiet!’.” Sy het gesê mense het in alle rigtings begin hardloop. Sy het op die glasbrug verbygeloop net nadat die voorval gebeur het.
Die slagoffer se naam en ouderdom is nog nie bekend gemaak nie.
WAARSKUWING: Die volgende foto’s kan sensitiewe kykers ontstel.
Die sentrum is sowat 8 kilo’s van my af. Ek was tot redelik onlangs byna elke naweek daar, sommer net vir ‘n lekker ontbyt, of koek en tee by Parrots.
Waarom dit doen waar soveel lede van die publiek dit kon aanskou ? Ek glo dit is ‘n gesig wat toeskouers nie sommer sal vergeet nie.
Ai dis so jammer. Wat het die arme man besiel en wat het hom daartoe gedryf? Kon hy nie maar met iemand gepraat het nie? My hart gaan uit na sy naasbestaandes. Ek glo God sal vertroosting bring.