Velddrif-hotelbestuurder sterf in motorongeluk

Markus Bester (34), bestuurder van die Laaiplek-hotel in Velddrif, is Saterdagaand op slag dood (foto: Laaiplek-hotel/Facebook)

Die breë Weskus-gemeenskap is in rou gedompel deur die afsterwe van ʼn jong hotelbestuurder wat welbekend onder inwoners was.

Markus “Makkie” Bester (34), bestuurder van die Laaiplek-hotel in Velddrif, is Saterdagaand op slag dood in ʼn motorongeluk toe hy op pad was om by vriende te gaan kuier.

Sy broer, Stegmann, en sy dogter (7) is ernstig beseer en gehospitaliseer.

Besonderhede van presies hoe die ongeluk gebeur het, is nog nie bekend nie.

Laaiplek-hotel het dié nuus Sondag in ʼn Facebook-plasing bevestig.

“Ons harte is stukkend, maar vir altyd sal die beste baas in ons harte en in die hotel teenwoordig wees, in elke aspek”, lui die plasing.

Intussen stroom boodskappe van medelye vir Bester op sosiale media in.

Personeellede van die Laaiplek-hotel bring hulde aan hul bestuurder (foto: Laaiplek-hotel/Facebook)

“Woorde kan nie hierdie verskriklike verlies beskryf nie. Kiewiet-hulle [sy ouers] het ʼn goeie kind groot gemaak. ‘Makkie’ was ʼn besonderse man. Die Here het hom by sy naam kom roep en hom kom haal. Hy het hom nou self nodig daarbo. Sterkte aan elke familie- en personeellid”, lui een van die Facebook inskrywings.

Nog ʼn inskrywing lui: “Die nuus is ʼn groot skok! Ons deel in julle verlies. Laaiplek is leeg. Mag die Here julle sterkte wees in ʼn tyd van rou. Dis ʼn baie groot verlies! Ons bid vir genesing en herstel.”

Markus was ook ʼn oudstudent van Hoër Jongenskool Paarl (HJS). Die skool se oudstudentebond het ook in ʼn Facebook-plasing hulde gebring aan hom en sy familie sterkte toegewens in hierdie moeilike tyd.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Delia ·

Baie simpatie aan sy vrou en ouers. Dis n moeilike pad. Hoop hulle dogtertjie en sy broer herstel mooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.