Veldhospitaal in Mitchells Plain nou operasioneel

‘n Saal in een van die Wes-Kaap se nuwe veldhospitale in Mitchells Plain. (Foto: Wes-Kaapse regering)

ʼn Gedeelte van die Lentegeur-hospitaal in Mitchells Plain word in ʼn Covid-19-veldhospitaal met 200 beddens in vier sale omskep. Altesaam 64 pasiënte word reeds daar behandel.

Die Wes-Kaapse regering het Dinsdag gesê die eerste intermediêre versorgingsale vir Covid-19-pasiënte is in gebruik geneem – in wat vantevore as die Aquarius-sale bekend gestaan het. Dit is omskep om versorging tydens die tweede vlaag van die Covid-19-pandemie te verskaf en is met bykomende beddens en toerusting toegerus.

Die fasiliteit het sy eie bestuurder en staan nou bekend as die Mitchells Plain Hospitaal van Hoop.

Die eerste twee sale met ʼn gesamentlike 100 beddens – almal met suurstof toegerus – is reeds voltooi.

Die derde saal sal na verwagting volgende week open, wat die getal beskikbare beddens op 150 te staan gaan bring. Die vierde saal open na verwagting ʼn week later.

Die Wes-Kaapse regering sê hy het besluit om sy Covid-19-plan tydens die tweede vlaag infeksies toe te spits op bestaande fasiliteite.

“Dit verseker dat ons fasiliteite, waaronder toerusting en personeel daar, ten volle kan gebruik, terwyl ons ook naby aan gemeenskappe is. Op hierdie manier gaan die bykomende belegging, soos om suurstoffasiliteite te installeer, die fasiliteit ook op lang termyn baat.”

Die provinsie se plan is om intermediêre versorging mettertyd na behoefte te verhoog , terwyl die beskikbaarheid van beddens, suurstofpunte, personeel en suurstofvoorraad ook in gedagte gehou word. Die Wes-Kaap het reeds stelsels ontwikkel sodat hy hierdie hulpbronne deegliks kan monitor.

“Ons werf meer personeel en daar kan bykomende beddens in fasiliteite in die provinsie gevoeg word sou dit nodig wees en sou ons personeel beskikbaar hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.