Veldwagter moontlik deur stropers geteiken

Anton Mzimba (Foto: Timbavati- private natuurreservaat)

Anton Mzimba (42), die veldwagterhoof van die Timbavati- private natuurreservaat wat vandeesweek in sy huis doodgeskiet is, is moontlik deur stropers geteiken.

Carina Crayton, stigterslid van die Wild Heart Wildlife Foundation, sê dié stigting – en baie ander betrokkenes in natuurbewaringskringe – het verneem van dreigemente om Mzimba uit die weg te ruim en dat hy waarskynlik uit wraak vermoor is.

Dit is egter nie deur die polisie bevestig nie en Timbavati het vroeër in ʼn verklaring gesê dat die reservaat in dié stadium vertroulik moet omgaan met die besonderhede rakende die moord op Mzimba.

“Intelligensie-gedrewe inligting het onthul dat daar verskeie dreigemente was om hom [Mzimba] uit die weg te ruim, en dat sy dood weerwraak was omdat hy geweier het om inligting aan die plaaslike renosterstropersindikaat te verskaf oor waar presies die renosters voorkom,” het Crayton in ʼn inskrywing op die stigting se Facebook-blad gesê.

Timbavati deel ʼn onomheinde grens met die Krugerwildtuin en Mzimba het 25 jaar by dié reservaat gewerk. Sy huis was langs die reservaat in Acornhoek – waar hy Dinsdag doodgeskiet is.

Luidens Crayton se inskrywing het Mzimba in 2016 die titel as beste veldwagter by ʼn toekenningsgeleentheid vir renosterbewaring (Rhino Conservation Awards) gewen. Hy het ook as tegniese adviseur vir Global Conservation Corps gedien.

“Die wrede moord het die bewaringswêreld verbyster,” het sy gesê.

Crayton het ook ʼn aanhaling van Mzimba op Facebook gedeel wat Mzimba voorheen oor sy beroep as veldwagter gesê het.

“Ek is ʼn held. Ek is nie skaam om dit vir myself te sê nie, want ek weet dat die stroper, voordat hy die renoster skiet, eerste op my gaan skiet,” het Mzimba se woorde gelui.

Crayton meen sy eie woorde was eindelik “ profeties”.

“Ons harte gaan uit aan sy familie en vriende, en almal wat hom liefgehad het. Mooi loop, Anton Mzimba.”

Timbavati het vroeër gesê dat hulle die polisie tans in hul ondersoek na die voorval bystaan.

Mzimba het as jong man in 1997 by Timbavati as ʼn erosieveldwerker begin werk voordat hy in 1998 as een van die reservaat se jongste veldwagters aangestel is. Hy het hom veral vir die bekamping van renosterstropery beywer.

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gestuur en wag tans op terugvoer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Indien hul bewus was van die dreigemente, waarom is Anton nie beskerm nie. Waarom was daar nie daadwerklik opgetree nie. Almal weet die wildstropers is ongenaakbaar. Anton het sy lewe gegee vir ons almal wat so lief is vir die diere. Hierdie is werklik hartverskeurend.

Di ·

My vermoede was toe sowaar reg. Hoop hulle vang die GEMORS! Seker weer onwettige immigtante in die land wat hom vermoor het.

Hennie ·

Anton Mzimba was wêreldwyd bekend vir sy toewyding om die natuur en wild, veral renosters te beskerm. Hierdie is n groot verlies vir SA.

Jack ·

N man wat sy werk doen is n bedreiging in die land. Die wurggreep van die mafia en hulle boewe word nou erger en gaan die land op alle vlakke doodwurg. Moordbendes van buite die grense kom in moor en verdwyn. Afrika is n groot plek om weg te kruip. Ons land is reeds in n anargie en ek sien geen hoop vir sy wetsgehoorsames nie. Daar moet n veldtog van uitlewering deur die gemeenskap aan die gang gesit word en ek is n voorstander van boendoehowe want in die land van geweld moet dit met geweld beantwoord word. Terug na die ou testament.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.