Verbod op ‘vals vleisetikettering’ verwelkom

Die departement sê hy gaan stappe doen teen vleisvervangingsprodukte wat beskrywings gebruik wat vir verwerkte vleis voorbehou word. (Foto: Unsplash)

Saai verwelkom die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se beslissing dat plantgebaseerde alternatiewe vir diereproteïen nie as vleis, suiwel of eier bemark mag word nie.

Volgens dié organisasie is die beskrywing van hierdie produkte as “vleisprodukte” misleidend vir verbruikers en is dit ook van belang vir die oorlewing van veeboere dat die integriteit van hul prdodukte in die markplek beskerm moet word.

Die departement het Vrydag ʼn stokkie gesteek voor produkbenamings wat “uitsluitlik voorgeskryf word vir verwerkte vleisprodukte”. Dit beteken beskrywings soos sampioenbiltong, plantgebaseerde frikkadelle en vegan-ribbetjies vir produkte wat vleis met ʼn ander bestanddeel vervang, is nou daarmee heen.

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, meen anti-vee-aktiviste mislei die verbruiker nie net met etikette wat voorgee om vleis, suiwel of eier te wees nie, maar ook met pseudo-wetenskap wat berus op valse aansprake dat diereproteïen negatiewe gevolge vir gesondheid, die klimaat, bio-diversiteit of dierewelsyn inhou.

By die Verenigde Nasies (VN) se Voedselsistemeberaad van Augustus 2021 het die wêreld se top-wetenskaplikes bewys dat daar geen negatiewe gesondheidsuitwerkings weens diereproteïen in die menslike dieet is nie; inteendeel, sekere noodsaaklike voedingstowwe soos vitamien B12 kom in diereprodukte voor.

“Die anti-vee-aktiviste is ook nie eerlik oor die klimaatvoetspoor van vleis- en suiwelproduksie nie. Die vrystelling van metaangas deur herkouers is deel van ʼn kort siklus waar afgevrete weidings meer koolstof afgee as dié waarin die metaangas in die atmosfeer afgebreek word. Dit kan nie met die vrystelling van koolstof uit fossielbrandstof in die energie- en vervoersektore vergelyk word nie,” sê De Jager.

“Die vegetariese beweging openbaar ook nie die koolstofvoetspoor en uitwerking op biodiversiteit wat miljoene meer hektare bone, waaruit plantgebaseerde alternatiewe vir diereprodukte vervaardig moet word, inhou nie.

“Die enigste belanghebbende in die voedselsisteem wat voordeel uit die plantgebaseerde proteïenbeweging trek, is groot verwerkingsmaatskappye wat mag in die waardeketting buite die plaashek sentraliseer, boere tot kontrakwerkers reduseer en groot winste maak.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.