Verdagte by hospitaal aangekeer

(Foto verskaf deur die NVG)

ʼn Verdagte is tans in polisie-aanhouding ná hy glo op heterdaad met gesteelde toerusting by die AngloGold Ashanti-hospitaal betrap is. ʼn Soektog is van stapel gestuur na twee vermeende medepligtiges.

Kwara Kekana, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, sê die diefstal kom terwyl die departement besig is om toerusting en masjinerie uit die fasiliteit te verwyder. “Die departement het die hospitaal op 31 Maart 2022 ontruim ná dit buite diens gestel is. Personeellede is reeds na ander fasiliteite ontplooi.

“Een verdagte is op heterdaad betrap toe hy gesteelde eiendom agterop ʼn bakkie gelaai het. Twee ander persone het weggehardloop. Die diewe het na bewering toegang tot die hospitaal oopgedwing en koperkabels, gasstowe, skerms en matrasse gesteel en twee digitale X-straalmasjiene beskadig.”

ʼn Saak is by die Carletonville-polisiestasie aanhangig gemaak.

“Die departement se batebestuurspan is tans besig met ʼn opname oor roerende en onroerende bates om die omvang van die skade en diefstal te bepaal en seker te maak dat alle oorblywende toerusting volgens beplanning geskuif word.”

Kekana sê die departement veroordeel die diefstal en vandalisme. “Dit beroof die publiek van noodsaaklike en waardevolle gesondheidsorgtoerusting wat kritiek is vir die verskaffing van dienste aan gemeenskappe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Francois ·

Verbied die koop en verkoop van koper en as n handelaar gevind word gee hom lewenslange tronkstraf. Dit is al hoe julle dit gaan stop

Chris dupreez ·

Ongelukkig het diefstal die norm geraak in Suid Afrika, met die anc vooraan.

Shakespeare ·

Diefstal was nog altyd Afrika se norm. Sal nooit verander nie.

Lillian ·

Hoekom is die hospitaal in die eerste plek toegemaak? Daardeur het julle die deur oopgemaak vir diefstal.

Eidel ·

Die standaard van korrupsie en diefstal is gestel. Soos in alle gevalle, die vis vrot van die kop ondertoe.

Waarnemer ·

Ek stem saam…verbied alle vorme van verkope van koper aan skrootmetaalhandelaars…en indien die skrootmetaalhandelaars voortgaan om dit aan te koop….sluit hulle saam met die verkopers van die koper toe…lewenslank.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.