Verdagte in hof ná biokinetikus se ontvoering

Riana Pretorius. (Foto: Facebook)

ʼn Man wat moontlik met die ontvoering van ʼn biokinetikus van Gqeberha verbind kan word, het reeds sy eerste hofverskyning gemaak en sal na verwagting binnekort aansoek om borgtog kan doen.

Riana Pretorius is presies ʼn week gelede buite haar werkplek ontvoer. Hoewel twee verdagtes reeds in verband met haar verdwyning in hegtenis geneem is, word Pretorius steeds vermis.

Die polisie weier ook nou om enige verdere inligting in verband met die ondersoek bekend te maak.

Kapt. Yolisa Mgolodela, woordvoerder van die Valke, het vroeër die week aan Maroela Media gesê sy kan geen verdere inligting oor die saak deel nie, aangesien die ondersoekspan “vir Pretorius se lewe vrees”.

Luxolo Tyali, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê een van die verdagtes het Maandag reeds in die Gqeberha-landdroshof verskyn.

Xolisile Rawutini (40) staan voorlopig tereg op aanklagte van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Van Pretorius se ontvoering is daar egter geen sprake nie.

Boonop het die tweede verdagte in die saak, na wat verneem word, steeds nie in die hof verskyn nie. Dit is onbekend waarom dit die geval is.

Volgens Tyali sal Rawutini Vrydag weer in die hof wees om aansoek om borgtog te doen.

“Hy bly in polisieaanhouding tot dan.”

Gebede vir Pretorius se veilige vrylating stroom daagliks op haar Facebookblad in.

Carla Le Grange, Pretorius se niggie, het ʼn gebed op Facebook gedeel en die Here gevra dat haar geliefdes gelei word terwyl die soektog na haar voortduur.

“Vader, waak asseblief oor ons niggie Riana Pretorius. Bewaar en troos haar deur hierdie moeilike tyd,” skryf sy.

Gr. 7-leerders aan Altona Primary School in Gqeberha het ook Donderdag bymekaar gekom om vir die veiligheid en beskerming van Pretorius te bid.

“Ons vertrou op die Here om ʼn wonderwerk te doen,” het die skool op Facebook geskryf.

Pretorius se geliefdes kon nog nie vir kommentaar bereik word nie, maar oproepe om haar gesin se privaatheid te respekteer is op sosiale media gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.