Verdagte in Soweto-skietery deur polisie gedood

Bheki Cele spreek inwoners in Soweto toe ná ’n skietery naby die Chicken Farm- informele nedersetting. (Foto: Twitter / @LirandzuThemba / Minesterie van Polisie)

Die polisie het Donderdag ʼn verdagte wat met ʼn noodlottige skietery in Soweto verbind word, doodgeskiet nadat dié man glo ʼn vuurwapen op beamptes gerig het.

Nog twee verdagtes is in verband met dieselfde voorval – waartydens vyf mense beseer en een dood is – in hegtenis geneem.

EWN berig dat ʼn skietery Maandag tydens ’n optog deur die vigilantegroep Operasie Dudula uitgebreek het. Die optog het glo oor kabeldiefstal gehandel en het naby die informele nedersetting Chicken Farm plaasgevind.

Luidens dié berig teiken die groep onwettig winkels en sakeondernemings wat deur buitelanders besit word. Dudula beweer egter dat hulle bordele, dwelmhuise en plekke waar beweerde kriminele aktiwiteite plaasvind, aanval.

Volgens Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, is al die slagoffers van Maandag se skietery, Suid-Afrikaners. Sy het die slagoffer wat Maandag doodgeskiet is, intussen as Kgomotso Diale (34) geïdentifiseer.

Inligting oor wapens lei na verdagtes

Muridili het Donderdag in ʼn verklaring gesê dat die polisie inligting oor die besit van vuurwapens in Dlamini en Chiawelo in Soweto opgevolg het toe hulle die drie verdagtes teëgekom het.

“Met hulle aankoms het polisielede die huis omsingel en met die intrapslag het een verdagte ʼn vuurwapen op die polisie gerig. Die polisie het spoedig opgetree en die verdagte geskiet. Nog twee verdagtes is in hegtenis geneem en die polisie het op twee vuurwapens en ammunisie beslag gelê.

Die verdagtes wat in verband met die skietery in hegtenis geneem is. (Foto: Saps)

“ʼn Voorlopige ondersoek het die verdagtes met die skietvoorval by die Chicken Farm- informele nedersetting verbind.”

Muridili sê die nasionaliteit van die verdagtes is nog nie bekend nie aangesien hulle geen bewys van identiteit kon lewer nie. Hulle sal van moord, poging tot moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie aangekla word.

“Die vuurwapens waarop beslag gelê is, sal na die forensiese wetenskaplaboratorium vir ballistiese toetse geneem word om vas te stel of dit nie met ander misdade verbind word nie.”

Die vyf slagoffers wat tydens die voorval beseer is, is na hospitale geneem waar twee persone tans nog aansterk.

Groot kommer oor skietvoorvalle in Soweto

Die ministerie van polisie het Woensdag gesê hulle is “diep bekommerd” oor gewelddadige konflik en skietvoorvalle in die Kliptown-polisiëringsgebied en die omliggende gebiede in Soweto.

Bheki Cele, polisieminister, het Woensdag ʼn besoek aan die gebied afgelê.

EWN berig dat Cele tydens dié besoek ook by Diale se huis was waar hy met Dudula se leier, Nhlanhla “Lux” Mohlauli, en ondersteuners van dié groep vergader het.

News24 berig dat Cele onderneem het om meer en beter hulpbronne – onder andere tien polisievoertuie om met polisiëring te help – aan die Kliptown-gebied te voorsien. Twaalf ondersoekers is glo ook aangestel om Diale se moord te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hendrik ·

Alle vergaderings is gewoonlik baie wanordelik soos ook die voorbeeld gekry van die parlement.

Bella ·

Wat soek Cele daar. Ons wil nie van n minister hoor nie. Ons wil vd polisie hoor.

domheks ·

Ou cele moet in die nuus wees – dink hy is n polisieman…..

Anel ·

Cele is nie ‘n polisieman nie. Hy hoort nie daar nie. Hy kan ook nie sommer mense aanstel om ondersoeke te doen nie. En waar kry hy die voertuie wat hy gaan voirsien? Wat het van die nuwe kommissaris geword? En wanneer gaan hulle dieslefde doen by plaasmoorde?

Swerwer ·

Ja en so sal Cele se beloftes hom nog inhaal omdat hy geen bystand en dienste aan boeregemeenskappe bied vir die brutale plaasmoorde nie maar slegs aan sy kader.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.