ʼn Man is Dinsdagmiddag in hegtenis geneem in verband met die moord op Issie Dippenaar (58) wie se liggaam Maandagaand in die kattebak van haar motor buite haar huis in Ermelo, Mpumalanga, gevind is.
Kapt. Carla Prinsloo, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die verdagte is in die Wesselton-woonbuurt vasgetrek. Hy het tydens sy inhegtenisneming ʼn koeëlwond aan sy sy opgedoen en word tans in die plaaslike provinsiale hospitaal behandel.
“Ek staan hier buite die hospitaal en die verdagte word nou binne by ongevalle behandel. Ek kan dus nog nie bevestig hoe ernstig die verdagte gewond is of wanneer hy ontslaan sal word om in die hof te verskyn nie,” het Prinsloo gesê. Sy het gesê die ouderdom van die verdagte is ook nog nie bekend nie.
Maroela Media het vroeër berig Dippenaar se liggaam is deur veiligheidspersoneel in haar motor se kattebak gevind nadat hulle by haar huis gaan ondersoek instel het. Dippenaar se ma het onraad vermoed nadat sy haar nie telefonies in die hande kon kry nie en het die buurman gevra om ondersoek in te stel. Hy het ʼn private veiligheidsmaatskappy ontbied nadat hy van buite geen beweging in Dippenaar se huis kon sien nie.
Prinsloo het vroeër gesê daar was geen sigbare beserings aan Dippenaar se liggaam nie en daar word vermoed dat sy verwurg is. ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van haar dood te bepaal. Dippenaar is glo laat gistermiddag die laaste keer lewend gesien.
Dippenaar was ʼn bekende figuur in die gemeenskap en het as die bestuurder van twee van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) se kinderhuise gewerk.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
28 Kommentare
Ai jammer om te hoor.
Dankie tog die skurk is vinnig gevang.
Mense ons moet harder word, moeiliker teikens, gereed wees.
vinnige inhegtenisneming! mooi so polisie
die slagoffer is wit en die verdagte word so vinnig gevang. Hier kom groot reën…
Die man moet nog skuldig bevind word deur die hof.